Engelenburghuismuseum

 

engelhuisOldB
Engelenburghuis, Pretoria.

Die Engelenburghuismuseum is tans gesluit terwyl die bouprojek aan die gang is.

Skakel 086 133 3786 vir meer inligting.

 

Kort geskiedenis van F.V. Engelenburg (1863-1938)
Koms na Suid-Afrika

Frans Vredenrijk Engelenburg is op 17 Maart 1863 in Arnhem, Nederland gebore. Sy vader was Frans Thomas Vredenrijk Engelenburg, ’n regsgeleerde en sy moeder Anna Maria Koopmans, ’n skoonsuster van die bekende Maria Margaretha (Marie) Koopmans-De Wet, ’n kultuurleidster en een van die eerste persone wat hulle vir die behoud van ou geboue in die Kaap beywer het.

In 1887 op 24-jarige leeftyd, promoveer Frans Vredenrijk in regsgeleerdheid aan die Universiteit van Leiden, Nederland. Hy praktiseer daarna as advokaat in Den Haag, waarna hy hom in die joernalistiek begewe. In 1889 emigreer hy na Suid-Afrika en vestig hom in Pretoria.

 

Hoofredakteur van De Volksstem

Kort na sy aankoms in Pretoria is die ses-en-twintigjarige Frans Engelenburg as hoofredakteur van die koerant, De Volksstem, aangestel. Dit was die begin van ’n skitterende loopbaan wat, met die uitsondering van die oorlogsjare en ’n tydjie daarna, gestrek het tot 1924.

 

Gedurende die Anglo-Boereoorlog (1899-1902)

Met die uitbreek van die oorlog was Engelenburg onder die eerstes wat met die kommando’s die Natalse grens oorgetrek het. Die Kruger-regering het egter gemeen dat hy beter diens aan die saak van die Republieke kon bewys deur ‘n velduitgawe van sy blad, met die titel Volksstem te Velde, die lig te laat sien. In ‘n spoorwegtrok van die NZASM is ‘n drukpers van Pretoria na die oorlogsfront gestuur en het Engelenburg ’n daaglikse uitgawe uitgegee. In hierdie velduitgawe het hy oorlogsnuus aan die burgers gebied, terwyl hy die gewone uitgawe ook versorg het. Hy het ook as korrespondent van oorsese nuusagentskappe en van verskeie Europese blaaie opgetree.

Met die inname van Pretoria op 5 Junie 1900 deur die Britte, was Engelenburg in Pretoria. Sy gehuurde huis in Andriesstraat is deursoek en op grond van ’n leë bandolier wat gevind is, is hy in hegtenis geneem. Nadat hy ’n boete betaal het, het hy en sy jarelange vriend en vennoot, Izaak Wallach, toestemming verkry om na Europa uit te wyk.

Hulle vertrek einde Julie/ begin Augustus 1900 per skip na Europa waar hulle in Lissabon aan wal gaan. In Lissabon het Engelenburg as korrespondent van die Nieuwe Rotterdamsche Courant opgetree. Kort voor die beëindiging van die oorlog is hy na België waar hy hulp verleen het aan dr. W.J. Leyds, die Republiek se gesant in Europa.

 

Diens aan die regering

Dwarsdeur die moeilike tye van die ZAR was Engelenburg getrou aan die Krugerregering. Hy het hom aan die kant van president Paul Kruger geskaar en was ’n waardevolle adviseur van die staatspresident. Hulle het ’n opregte vriendskap gesluit. Sowel die staatspresident as dr. Leyds het geweet dat hulle op Engelenburg se welwillende dienste kon staatmaak. In dié tyd, maar veral ook ná die Anglo-Boereoorlog was die takt, bekwaamheid en veelsydigheid van Engelenburg die Afrikanergemeenskap tot groot steun. Hy het veral ook die vertroue van generaals Louis Botha en Jan Smuts geniet.

 

Ander bydraes

Engelenburg het in verskeie komitees en rade gedien, onder andere die Onderwysraad van Transvaal, die Raad van die Staatsbiblioteek, die Raad van die Universiteitskollege van Transvaal (tans die Universiteit van Pretoria) en die Suid-Afrikaanse Lugvaartvereniging van Suid-Afrika.

 

Engelenburg’s Folly – Het Witte Huis – Engelenburghuis

Voor die Anglo-Boereoorlog het Engelenburg in Andriesstraat, Pretoria in ’n gehuurde huis gewoon. Net voor die uitbreek van die oorlog in 1898 het hy twee erwe teen die hang van Meintjieskop van die weduwee Anna Christina Elizabeth Ziervogel gekoop. Tydens die oorlog het hy in Februarie 1900 ‘n derde erf bokant die ander twee erwe gekoop. Die gewelwoning wat Engelenburg ná die oorlog gebou het, is ’n sprekende bewys van sy wellewendheid en oog vir skoonheid, sowel as ’n fyn aanvoeling vir toekomstige uitbreiding en goeie belegging. Toe die huis in 1903 gebou is, het dit buite die dorp alleen gestaan. Die inwoners van Pretoria het lank daarna as “Engelenburg’s Folly” (Engelenburg se gekheid) verwys. Mettertyd het dit as “Het Witte Huis” bekendgestaan. Later sou die Uniegebou en die deftige woonbuurt Bryntirion agter hom verrys en suid daarvan, Arcadia. Baie van die kosbare meubels in die huis herinner aan die meubels van sy tante, Marie Koopmans de Wet, in die Koopmans-De Wetmuseum in Kaapstad. Die verskeidenheid van die kosbare kunsversameling en die binnenshuise versiering was ’n uiting van sy kunssinnige, kosmopolitiese geaardheid.

 

Sy bydrae op kulturele en historiese gebied

F.V. Engelenburg se naam word telkens gevind onder die lys name van persone wat besonder baie belang in die geskiedenis gestel het. Onder die leiding van Engelenburg, Gustav Preller, minister F.S. Malan en oud-president F.W. Reitz is belangrike toevoegings tot die Voortrekkermuseum in Pietermaritzburg gemaak. Ook het hulle met sukses hul beywer om die Koopmans-De Wethuis in Kaapstad as ‘n museum in te rig.

Die argitektuur in Suid-Afrika het Engelenburg na aan die hart gelê en menige jong argitek het sy opgang in ’n groot mate te danke gehad aan die ywer van Engelenburg. Sy belangstelling het oor staats- en ander openbare geboue, kerkgeboue en selfs sommige woonhuise gestrek.

 

Engelenburg se betrokkenheid by die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns

In Julie 1909 is De Zuid Afrikaanse Akademie voor Taal, Letteren en Kunst in Bloemfontein in die lewe geroep. Dertig stigterslede is op dié kongres aangewys waarvan Engelenburg een was. Vanaf Julie 1910 tot Julie 1911 het Engelenburg in die Akademieraad gedien en weer vanaf Julie 1912 tot September 1915. Agt jaar later is hy tot voorsitter van die Akademie verkies (Februarie 1923 tot Oktober 1925 en weer vanaf Oktober 1930 tot Oktober 1932). Die instansie se naam het mettertyd verander na Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.

 

Engelenburghuis as museum

Engelenburghuis is ná Engelenburg se dood in 1932 as ’n museum ingerig en onder die kuratorskap van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns geplaas.