Wat Ons Doen

 

Agtergrond

Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, oorspronklik De Zuid-Afrikaanse Akademie voor Taal, Letteren en Kunst,is op 2 Julie 1909 gestig. Destyds was die doelwit om die ontwikkeling van die Nederlandse (insluitende die Afrikaanse) taal, letterkunde, kuns, geskiedenis en oudheidkunde in Suid-Afrika te bewaar en uit te bou. Tans is die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ’n multidissiplinêre organisasie.en het oor die jare bekend geword weens die gereelde toekenning van literêre pryse (waarvan die Hertzogprys die bekendste is), en ander prestigepryse, sy publikasies (twee gereelde tydskrifte en talle geleentheidspublikasies), die werk van sy Taalkommissie aan die standaardisering van Afrikaans, die talle vakwoordeboeke en terminologielyste wat deur lede van die Akademie opgestel en gepubliseer is.

Die Akademie was instrumenteel in die erkenning van Afrikaans as amptelike taal; die ontstaan van die FAK; die stigting van die Fakulteite Geneeskunde, Tandheelkunde en Ingenieurswese aan die Universiteit van Pretoria; die instelling van die desimale stelsel in Suid-Afrika; die Nasionale Vakterminologiediens; die Afrika-Instituut; die Stigting Simon van der Stel; die Buro vir Heraldiek; die RGN; en vele ander. Die Academy of Science of South Africa (ASSAf) is mede deur die insette van prominente Akademielede gestig.

 

Missie en doelstellings

Die oogmerke van die Akademie as multidissiplinêre organisasie is die bevordering van die wetenskap, die tegnologie en die literatuur in Afrikaans en die kunste, asook die bevordering van die gebruik en die gehalte van Afrikaans, primêr binne Suid-Afrika. Dit sluit die lewering van diens aan die totale samelewing in wat die belange van alle Suid-Afrikaners wil dien. Die Akademie streef na uitnemendheid, billikheid, en hoë wetenskaplike, morele en demokratiese waardes.

 

Lidmaatskap

Die Akademie het tans meer as 1 000 aktiewe en ongeveer 300 rustende lede.  Lidmaatskap van die Akademie is op uitnodiging op grond van besondere prestasies op wetenskaplike, tegnologiese of kulturele gebied.  Die meeste lede is aan universiteite en ander inrigtings vir hoër onderwys, wetenskapsorganisasies, die professies en organisasies in die private sektor verbonde.

Vooraanstaande bankiers, ouditeurs, sakeleiers, geneeshere, regsgeleerdes, ingenieurs, kunstenaars en ander wat op hulle eie terreine presteer, word ook tot die Akademie verkies.

  • Persone wat vir lidmaatskap in aanmerking wil kom, kan navraag doen by die Hoof Uitvoerende Beampte by die onderstaande adres.

Lidmaatskap van die Akademie word met die kenletters L.Akad.SA aangedui.

 

Die Akademieraad

Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns staan onder die gesag en leiding van die verkose Akademieraad – waarin verskillende vakdissiplines verteenwoordig is. Die organisasie en administrasie van die Akademie word vanuit sy permanente kantoor in Pretoria onder leiding van die Hoof Uitvoerende Beampte behartig. Hoofinkomstebronne is borgskappe, ledegeld, skenkings, tantième, rente op beleggings, testamentêre bemakings en trustgeld.

 

Werkgemeenskappe en afdelings

Werkgemeenskappe van die Akademie is gevestig in Bloemfontein, Stellenbosch, die Oos-Kaap,, Potchefstroom, Pretoria, die Vaaldriehoek, en die Vrystaat. Universiteite vorm meesal die belangrikste setels van die Akademie. Van die afdelings van die Akademie funksioneer op vakgrondslag: soos dié vir Biologiese Wetenskappe, Chemiese Wetenskappe, Geneeskunde, Ingenieurswese en Wis- en Natuurkunde.

 

Komitees en kommissies

Die aktiwiteite van die Akademie word deur verkose en staande komitees en kommissies bedryf. Die kommissies vir taal, letterkunde, onderwys, geskiedenis, uitvoerende en visuele kunste is met spesifieke opdragte belas. ’n Verskeidenheid vak- en spesiale komitees voer op soortgelyke wyse take op bepaalde terreine uit en behartig keuringswerk vir die onderskeie toekennings van die Akademie. ’n Kuratorium is verantwoordelik vir die Engelenburghuismuseum.


E-pos: akademie@akademie.co.za