Besinnings oor aktuele aangeleenthede
Menings wat in bydraes op Gesprekspunt uitgespreek word, weerspiëel nie noodwendig die menings en opvattings van die SA Akademie nie.
Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SA Akademie) beoog om ʼn volhoubare, vennootskapsgedrewe bewaring- en navorsingsentrum vir die volle omvang van Afrikaanse kultuurerfenis te vestig. Afrikaanshuis het die beskerming, dokumentering, en ontsluiting van fisieke Afrikaanse kultuurerfenis-versamelings ten doel. Dié sentrum sal navorsing en opleiding bevorder en in noue samewerking met bestaande instellings en organisasies werk; veral ten opsigte van digitisering, digitalisering en toegang deur middel van ʼn lewende argiefplatform. As hulpbronsentrum is Afrikaanshuis ʼn plek waar akademici van alle universiteite kan inval, saamwerk en toegang verkry tot kundigheid en bronmateriaal. Die einddoel is eenvoudig: om erfenisskatte te bewaar en aan navorsers beskikbaar te stel.
Die idee vir Afrikaanshuis het ontstaan na aanleiding van ’n onlangse opname en verwante navorsing deur die SA Akademie oor die stand van museums en erfenisinstellings in Suid-Afrika. Dié inligting het sterk reaksie ontlok en die SA Akademie bedank alle vennote en gemeenskappe wat reeds saam oor Afrikaanshuis droom en dink. Bevindings van die ondersoeke dui op ’n patroon van sistemiese agteruitgang en verlies: In die basisopname van 2017-2018 is 139 museums volledig gedokumenteer; 32 was toe reeds gesluit, 37 ernstig bedreig, 47 moontlik bedreig en slegs 23 relatief minder bedreig. Ná 2020 wys opvolgondersoeke op versnellende verlies deur plundering, brande, diefstal en die verwydering van museumitems en -uitstallings – met kleiner dorpsmuseums besonder kwesbaar.
Hierdie tendens sluit aan by die breër nasionale konteks, soos beklemtoon in onlangse beriggewing oor die verval van museums en verwante instellings, wat die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) in Bloemfontein insluit. Ten spyte van hierdie uitdagings is dit belangrik om te noem dat daar by talle instellings steeds amptenare en personeel is wat met uiters beperkte hulpbronne merkwaardige werk verrig. Hierdie toewyding herinner ons daaraan dat Afrikaanse geskiedenis en geheue deel is van die groter Suid-Afrikaanse verhaal en binne daardie geheel bewaar moet word.
Dit is juis teen hierdie agtergrond dat die Akademieraad verbind is tot ’n praktiese, volhoubare oplossing in die vorm van Afrikaanshuis. Dié sentrum sal as spilpunt dien vir die beskerming en bewaring van Afrikaanse kultuurerfenis en sodoende verseker dat versamelings beveilig, deeglik gedokumenteer en vir navorsing toeganklik gemaak word en ook dat die praktiese voorwaardes vir volgehoue bewaring en instandhouding nagekom word – van professionele berging, konservering en katalogisering tot digitisering, digitalisering en hoëgehalte-metadata.
Bewaringspraktisyns, navorsers, storiedraers en befondsers sal hierdeur doelbewus saamgetrek word, sodat erfenis in die openbare belang ontsluit én geleef kan word.
Met hierdie inisiatief bou die SA Akademie voort op ’n bewese rekord van 116 jaar van bewaring, publikasie en kennisbestuur en ook op die omvangryke argief-, kuns- en museumversamelings in die SA Akademie se uitgebreide portefeulje. Hieronder tel die Engelenburghuismuseum, ’n boekery van sowat 4 500 volumes, ’n argief wat sedert 1909 bygehou word en ʼn omvangryke kunsversameling, wat getuig van die SA Akademie se reeds gevestigde kapasiteit wat Afrikaanshuis as praktiese, volhoubare oplossing moontlik maak. Hierbenewens is die SA Akademie se grootste bate die kundigheid wat in die ongeveer 700 Akademielede gesetel is – kundigheid wat spesifiek gerig is op die bewaring en bevordering van alle variëteite van Afrikaans in alle domeine van die samelewing.
Benewens deurlopende opvolgondersoeke om die totale omvang van die verlies aan Afrikaanse kultuurerfenis vas te stel, word praktiese hervestigingsroetes vir die inhoud in bedreigde museums en erfenisinstellings ondersoek.
“Ons doel is eenvoudig én ambisieus: ’n tuiste waar Afrikaans se geheue kan (voort)leef. Afrikaanshuis bring bewaring en navorsing byeen en vestig ’n nuwe hoofstuk vir Afrikaanse kultuurerfenis wat gekenmerk word deur veiligheid, toeganklikheid en volhoubaarheid,” sê dr Annelise de Vries, HUB van die SA Akademie.
Die SA Akademie doen hiermee ʼn beroep op die taalgemeenskap en die breër publiek om aktief betrokke te raak by die bewaring van ons erfenis. In elke dorp en stad is daar instellings, groot of klein, waar die geskiedenis van Afrikaans vasgevang lê. Baie van hierdie plekke verkeer onder druk, maar saam kan ons sorg dat hul stories nie verlore gaan nie.
Stuur asseblief inligting oor die museum of kultuurerfenisinstelling in u omgewing na linda@akademie.co.za. Verskaf die naam van die instelling, kontakbesonderhede, ’n kort beskrywing van die huidige situasie en, indien moontlik, foto’s.
Met u bydrae kan ons die grondslag vir Afrikaanshuis versterk ten einde ’n hulpbronsentrum te vestig waar navorsers, studente en gemeenskappe byeen kan kom; ’n plek waar ons erfenisskatte nie net veilig bewaar word nie, maar ook vir toekomende geslagte beskikbaar bly.