Tydskrifte van die SA Akademie

Die SA Akademie gee twee Afrikaanse interdissiplinêre geakkrediteerde vaktydskrifte uit

Vaktydskrifte

Die SA Akademie gee twee Afrikaanse interdissiplinêre geakkrediteerde vaktydskrifte uit, naamlik die Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie (SATNT) en die Tydskrif vir Geesteswetenskappe (TGW). Die hoofdoelstellings van die SAAWK is die bevordering van wetenskap, tegnologie, letterkunde en kuns, asook die beskerming en bevordering van Afrikaans in al sy variëteite.

Geskiedenis

Die Tydskrif vir Wetenskap en Kuns het van 1922 onder redaksie van dr DF Malherbe verskyn. In 1948 het die Ingenieursafdeling van die SAAWK die Tydskrif van die Ingenieursafdeling van die SAAWK onder redaksie van mnr SA Malan uitgegee. In 1949 word die tydskrif se mandaat uitgebrei en vervang met Tegnikon onder redaksie van mnr FS Uys.

In 1961 het die Tydskrif vir Wetenskap en Kuns in twee verdeel in die Tydskrif vir Geesteswetenskappe, onder redaksie van prof PJ Nienaber en Tydskrif vir Natuurwetenskappe onder redaksie van dr A Strasheim. In 1982 smelt Tegnikon en die Tydskrif vir Natuurwetenskappe saam om die Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Natuur-
wetenskap en Tegnologie
(SATNT) te vorm – steeds onder redaksie van dr Strasheim. Ná 2000 was prof JN (Kobus) Eloff die voorsitter van die Redaksiekomitee. Die eerste aanlyn uitgawe het in 2012 verskyn. Tussen 2013 en 2016 was prof JG Maree die uitvoerende redakteur van die SATNT en na 2016 was prof JN Eloff weer die uitvoerende redakteur.

Sedert 2025 is prof Hannes Rautenbach die hoofredakteur van die SATNT en prof Nerina Bosman die hoofredakteur van TGW.

Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie (SATNT)

SA Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie

Die Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie (SATNT) is een van die twee ooptoegangvaktydskrifte wat deur die SA Akademie uitgegee word. Die hoofdoel van die SATNT is om die natuurwetenskap en tegnologie veral in Suid-Afrika te bevorder deur ooptoegang ewekniebeoordeelde publikasies, maar om terselfdertyd ‘n geleentheid te skep vir Afrikaanssprekende wetenskaplikes om hulle navorsingsresultate in hulle moedertaal te publiseer. Op hierdie wyse word die Afrikaanse natuurwetenskaplike en verwante tegnologiese vaktaal ook onderhou en uitgebou. Voorkeur sal verleen word aan bydraes van Suid-Afrikaanse outeurs.

Besoek die webbladlees meer

Tydskrif vir Geesteswetenskappe (TGW)

boeke

Die Tydskrif vir Geesteswetenskappe (TGW), gepubliseer deur die SA Akademie, verskyn kwartaalliks in Maart, Junie, September en Desember. Die TGW ondersteun ‘n ooptoegangsbeleid en dus kan alle artikels in die digitale weergawes gratis afgelaai word deur belangstellende lesers.

besoek die webbladlees meer
SKENKINGS