Uitnodiging: Internasionale Moedertaaldaglesing, Woensdag 21 Februarie 2024

ʼn Gaslesing deur dr Willa Boezak aangebied deur die Taalkommissie van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns

Op 21 Februarie 2024 word Internasionale Moedertaaldag gevier, en die Taalkommissie het in opdrag van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns besluit om ’n gaslesing aan te bied om die geleentheid te vier. Aangesien dit eintlik die variëteite van Afrikaans (afgesien van die standaardvariëteit) is wat die eerste tale of moedertale van die Afrikaanssprekende gemeenskap is, het die Taalkommissie dit goedgedink om by hierdie geleentheid eerder op hierdie variëteite te fokus.

Die kodifisering van een van die variëteite van Afrikaans, spesifiek algemene Afrikaans (of Standaardafrikaans) is natuurlik waarmee die Taalkommissie deurgaans besig is. Daar is egter tans ook heelwat projekte wat ten doel het om Afrikaans se ander, meestal gesproke, variëteite ook te begin kodifiseer. Anders as in die geval van die standaardvariëteit, waarvoor daar relatief baie geskrewe data beskikbaar is waarop die Taalkommissie die kodifiseringsproses kan berus, is daar dikwels nog min, indien enige, data wat doelbewus in die ander variëteite geskryf is, beskikbaar. Daarom het ons besluit om vir dr. Willa Boezak te vra om die lesing te behartig en te praat oor die kodifiseringstaak wanneer daar in ’n ander variëteit as die standaardvariëteit geskryf word.

Dr. Willa Boezak is ’n antropoloog, dosent, navorser, skrywer en visuele kunstenaar wat op verskeie terreine bygedra het tot die bevordering van die variëteite van Afrikaans, in die besonder Griekwa-Afrikaans en Kaapse Afrikaans. In die verlede was hy betrokke as dosent aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK), maar hy het ook in die Kommissie vir die Beskerming en Bevordering van die Regte van Kultuur-, Godsdiens- en Taalgemeenskappe gedien, asook ’n termyn as voorsitter van die Wes-Kaapse Kultuurkommissie voltooi. Hy is ook ’n navorsingsgenoot en voormalige lid van die Afrikaanse Taalraad (ATR). Dr. Boezak is die skrywer van verskeie publikasies, onder meer So glo ons (2016), Griekwaheld – die merkwaardige lewe van A.A.S. le Fleur I (2018) en Die Pesalms vi ôse mense (2019), ’n vertaling van die Psalms in die Bybel in Kaaps.

Hierdie lesing dien ook as die eerste in ’n reeks weeklikse lesings wat die Taalkommissie vir April en Mei vanjaar beplan om die Taalkommissie en ons werksaamhede aan belangstellendes bekend te stel.
Tydens die reeks sal daar lesings aangebied word oor die geskiedenis van die kommissie, ’n diepgaande bespreking van die inhoud van die AWS, die werkswyse van die kommissie en die plek van algemene Afrikaans tussen al die ander variëteite.

Hierdie lesing vind om 18:00 op Woensdag 21 Februarie 2024 by die Akademie-kantoor in Pretoria as ’n hibriede aangeleentheid plaas. Belangstellendes moet asseblief voor of op 19 Februarie by akademie@akademie.co.za RSVP om hul bywoning te bevestig, en aandui of hul beplan om virtueel of in persona by te woon.

Datum: Woensdag. 21 Februarie 2024

Tyd: 18:00

Plek: SA Akademiekantoor. Ziervogelstraat 574, Arcadia. Pretoria

RSVP: Maandag, 19 Februarie 2024 by akademie@akademie.co.za (dui asseblief aan of u dit in persoon of aanlyn wil bywoon)

Om dit aanlyn by te woon is gratis. Indien u die geleentheid in persoon wil bywoon beloop die koste R60 per persoon.
Heg asseblief u bewys van betalling aan u e-pos wanneer u RSVP.


Bankbesonderhede:
SA Akademie vir Wetenskap en Kuns
Tjekrekening: 610 810 004
Bank: ABSA, Brooklyn (Takkode: 632 005)
Verwysing: GWSS2024+ VoorletterVan (bv. SMeyer)

Ons ontvang u graag by hierdie geleentheid. Dankie vir u ondersteuning.