Gesprekspunt

Besinnings oor aktuele aangeleenthede

Meningstukke deur Akademielede en ander kundiges

Menings wat in bydraes op Gesprekspunt uitgespreek word, weerspiëel nie noodwendig die menings en opvattings van die SA Akademie nie.

2023 in Perspektief: Internasionaal en Plaaslik

9/12/22
deur dr Theuns Eloff
B-grade in regte en teologie, en meesters- en doktorsgrade in teologie

Dr Theuns Eloff het B-grade in regte en teologie, en meesters- en doktorsgrade in teologie aan die PU vir CHO behaal. In 2002 word hy rektor van sy alma mater, en later eerste visekanselier van die nuwe Noordwes-Universiteit (2004-2014). Hy is tans voorsitter van die Dagbreek Trust, die Trust vir Afrikaanse Onderwys, die Trust vir Afrikaanse Kuns, Kultuur en Erfenis, die MOS-Inisiatief en van Astral Foods. Hy lewer gereeld kommentaar oor politieke en sosio-ekonomiese kwessies en skryf drieweekliks vir Netwerk24.

deur dr Theuns Eloff
deur dr Theuns Eloff
B-grade in regte en teologie, en meesters- en doktorsgrade in teologie
Lees meer

2022 staan vinnig einde se kant toe, met eksamens wat klaarmaak en akademiese jare wat voltooi word. Die langverwagte Desembervakansie vir die gelukkiges lê om die draai. Maar vinnig sal die nuwe werksjaar begin ... Wat is die vooruitsigte en tendense wat ons almal se 2023 gaan vorm?

Op internasionale gebied kan vyf tendense geïdentifiseer word. Die oorlog wat Rusland teen Oekraïne voer, sal voortduur. Dit het reeds die vorm van ‘n lae intensiteit offensief aangeneem, met die Russe wat nie meer oral aan die wenkant is nie. Rusland se hulpbronne – met sanksies wat begin byt – is onder druk. Dit kan aanvaar word dat daar nie ‘n volslae wenner gaan wees nie – terwyl die res van die wêreld verdere slagoffers is. Dit kan gesien word in swakker ekonomiese groei en ‘n skaarste aan noodsaaklikhede soos mielies en graan, asook olie en gas.

Tweedens sal 2023 steeds inflasionêre druk in die meeste lande se ekonomieë bring. Jonger ekonome in die Weste ken bykans nie iets soos inflasie nie, en die maatreëls om dit te beheer ofte beperk, wissel van oorreaksies tot onderreaksies. Die internasionale ekonomie sal wat groei betref, onder druk bly. Hoe die VSA (wat die wêreld se barometer is) hoër inflasie gaan bestuur, gaan deurslaggewend vir die wêreldekonomie wees.

Een van die newe-effekte van die Russiese aggressie is dat olie en gas skaarser en duurder word. Europa staar ‘n koue en moontlike gedeeltelike donker winter in die gesig. ‘n Duitse stigting het onlangs gesê dat die Duitse regering ‘n afvaardiging na Suid-Afrika gaan stuur om te hoor hoedat beurtkrag bestuur kan word. Dit is goed om te weet dat ons darem in iets die beste in die wêreld is! Duitsland oorweeg om sy steenkoolgedrewe kragstasies tenminste tydelik te heropen, en kernkrag is skielik weer ‘n moontlikheid. 2023 sal egter geen blywende energie-oplossings bring nie.

Daar is, vierdens, kenners wat meen dat die huidige internasionale situasie globalisering ‘n knou toegedien het. Regerings begin al meer weer hulle eie nasionale agendas en ekonomieë eerste stel. Dit word veral veroorsaak deurdat lande van ander lande (veral in die ooste) afhanklik geraak het vir die verskaffing van broodnodige onderdele. Hierdie pyplyn is deur die Russiese aggressie versteur of selfs tot stilstand gedwing – en sal nie vinnig herstel nie. Die ander faktor is die openlike toenadering tussen Rusland en China na om ‘n sogenoemde nuwe “wêreldorde” daar te stel om die VSA en Europa se oorheersing sedert die einde van die Tweede Wêreld Oorlog, te beëindig. Hierin sal Indië moontlik ‘n stille vennoot wees. Of werklik gaan gebeur wat Rusland en China beplan, is debateerbaar, maar die feit is dat dit globalisering tydelik stuit en verlangsaam.

Die vyfde internasionale tendens is dat tegnologiese ontwikkeling teen ‘n verstommende pas voortduur.

Die vierde tegnologiese rewolusie word al hoe meer sigbaar, veral in ontwikkelende lande. ‘n Vinnige soektog op die internet toon opwindende nuwe tegnologie-ontwikkelings aan, onder andere kunsmatige intelligensie, datawetenskap, blokkettingtegnologie in meer as finansiële sake, virtuele realiteit, nog hoër spoed dataverwerking en intelligente toeps (apps).

Al hierdie en ander tendense sal in ‘n mindere of meerdere mate ‘n impak op Suid-Afrika (en Afrika) hê. Daarmee sal rekening gehou moet word. Daar is egter ook sterk plaaslike tendense wat volgende jaar gaan vorm.

Die eerste hiervan is die uitslag van die ANC se Desember-verkiesingskonferensie. Tans lyk dit waarskynlik dat president Cyril Ramaphosa ‘n tweede termyn as ANC en landspresident gaan kry. Die vraag is hoedat die res van die sogenaamde top ses gaan lyk. As Ramaphosa sy ondersteuners of ten minste nie vyande nie, in die ander top vyf poste kan kry, sou hy met sy noodsaaklike hervormings kon voortgaan. Indien daar een of twee van die Radikale Ekonomiese Transformasie-groep in die top vyf is, sal daar nie veel verandering van Ramaphosa se kant af kom nie. Hoe dit ook al sy, 2023 gaan die begin wees van die veldtogte vir die algemene verkiesing wat teen middel 2024 gaan plaasvind.

LEES VERDER

Bronne