Gesprekspunt

Besinnings oor aktuele aangeleenthede

Meningstukke deur Akademielede en ander kundiges

Menings wat in bydraes op Gesprekspunt uitgespreek word, weerspiëel nie noodwendig die menings en opvattings van die SA Akademie nie.

Erfenisdag, 24 September: Is erfenis geskiedenis?

23/9/23
Dr Lindie Koorts

Lindie Koorts is ’n historikus verbonde aan die Universiteit van die Vrystaat se Internasionale Studies Groep. Sy het haar M.A. in Historiese Studies (cum laude) aan die Universiteit van Johannesburg verwerf, en haar D.Phil. in Geskiedenis aan die Universiteit Stellenbosch. Sy het ook tyd spandeer aan die Universiteit van Groningen se Biografie Instituut.

Haar navorsing fokus op biografie, politieke geskiedenis en Afrikaner-nasionalisme in die 20ste eeu. Haar boek, D.F. Malan en die Opkoms van Afrikaner-nasionalisme (Tafelberg 2014) en D.F. Malan and the Rise of Afrikaner Nationalism (Tafelberg 2014), waarvan sy self die vertaling behartig het, was op die kortlyste van sowel die Sunday Times Alan Paton Award for Non-Fiction en die KykNET-Rapportprys vir Nie-Fiksie. Haar vertaling is deur die Suid-Afrikaanse Vertalersinstituut (SAVI) bekroon. Dit spreek van haar toewyding aan Afrikaans en om in vertaling te leef, ’n ingesteldheid waarin ons verhale deel vorm van, en waarde toevoeg tot, die wyer Suid-Afrikaanse gemeenskap.

Sy het haar die afgelope jare gevestig as ’n mediakommentator op televisie, radio en die pers; met die doel om geskiedenis toeganklik te maak vir ’n breër gehoor, en ook om die bande te lê tussen geskiedenis en aktuele sake. Daarin demonstreer sy die waarde van konteks en van ’n langtermyn-perspektief in ons denke oor ons hedendaagse uitdagings.

Sy dien tans op die Raad van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, sowel as sy Geskiedeniskommissie. Sy is ook lid van die Suider-Afrikaanse Historiese Vereniging en dien op die bestuur van die Historiese Genootskap van Suid-Afrika.

Dr Lindie Koorts
Dr Lindie Koorts
Lees meer

“Erfenis” en “geskiedenis” is twee begrippe wat ons dikwels in samehang hoor. Dit word geassosieer met tradisie, gebruike en erfgoed – die wortels stewig in die verlede, maar die bewaring en praktyk gevestig in die hede. Dit vorm deel van ons omgang met ons identiteit en ons bande met ons verlede. Daarom besoek ons museums, beoefen ons rituele, woon ons tradisionele geleenthede by en rig ons monumente op.

Is erfenis egter dieselfde as geskiedenis, in die akademiese sin van die woord, en is erfenis iets waarmee historici hulself besig hou? Die antwoord daarop is noodwendig akademies van aard. Historici en erfenispraktisyns beskou mekaar as kollegas, maar ons beoefen afsonderlike – hoewel verweefde – vakgebiede. Ons navorsing voed mekaar se vakbeoefening en beide is aktief besig om ’n vertolking van die verlede te bied.

Erfenispraktisyns is egter ook op ’n praktiese vlak bemoeid met die bewaring van die tasbare oorblyfsels van ons verlede en met die publiek se omgang daarmee, terwyl geskiedenis nie noodwendig met die tasbare verlede te make het nie, en meer gemoeid is met navorsing óór die verlede as die bewaring daarvan.

Navorsing oor die verlede reik so wyd soos die Heer se genade – dink bv. aan die uiteenlopende navorsingsgebiede binne die veld van geskiedenis: Politieke geskiedenis, ekonomiese geskiedenis, sosiale geskiedenis, intellektuele geskiedenis, omgewingsgeskiedenis, militêre geskiedenis, kultuurgeskiedenis, arbeidsgeskiedenis, wetenskapsgeskiedenis, gendergeskiedenis– die lys kan bladsye beslaan. Elkeen van hierdie navorsingsgebiede word deur erfenis ondervang en berus op die bewaringswerk van erfenispraktisyns – soos ook op die kundigheid van argivarisse en bibliotekarisse, waarsonder historicinie hul werk kan verrig nie.

Beide velde kan krities met die verlede omgaan, en terselfdertyd is beide kwesbaarvir die romantisering van die verlede en vir politieke propaganda. Geskiedenishandboeke kan in diens van die staat staan en museums kan ’n bepaalde weergawe van die verlede verheerlik. Die Suid-Afrikaanse landskap is bestrooi met voorbeelde van beide.

Die afgelope jare sien ons ’n al groter wordende gaping tussen die kritiese, akademiese beoefening van geskiedenis by universiteite, en die openbare viering van die verlede. Historici tref dikwels onderskeid tussen “akademiese” (lees: kritiese) geskiedenis en “openbare” of “publieke” geskiedenis, waarvan erfenisbeoefening ’n groot onderdeel vorm. Dit is nie te sê dat ons erfeniskollegas onkrities met die verlede omgaan nie – erfenisstudies is tog ook ’n kritiese akademiese veld in eie reg. Historici word egter toenemend binne ons universiteite verskans, terwyl erfenispraktisyns meer uitgelewer is aan die staat se toekenning – of weerhouding – van hulpbronne.

LEES VERDER

Bronne