Gesprekspunt

Besinnings oor aktuele aangeleenthede

Meningstukke deur Akademielede en ander kundiges

Menings wat in bydraes op Gesprekspunt uitgespreek word, weerspiëel nie noodwendig die menings en opvattings van die SA Akademie nie.

Internasionale Geletterdheidsdag, 8 September: ‘‘My ma word 93...’’

8/9/23
Prof Rinelle Evans, akademielid en emeritus professor aan die Universiteit Pretoria

Rinelle Evans is 'n emeritus professor met 'n doktorsgraad in onderrigkommunikasie met televisietegnologie behaal en 'n MA (cum laude) Engelsonderrig aan sprekers van ander tale (Universiteit van Birmingham, Engeland). Haar akademiese belangstellings is Engelstaalonderrig, instruksionele ontwerp en kommunikasie en taal-in-onderwysaangeleenthede. Sy is 'n C2 NNS-gegradeerde navorser en het nie net verskeie handboeke, studiegidse en videomateriaal vir Engelstaalleerders gepubliseer nie, maar ook talle akademiese artikels. Haar vakkundige boek, Complex classroom encounters – a South African perspective,is saam met 'n Kanadese kollega gepubliseer. Haar onderwysloopbaan strek oor 43 jaar waartydens sy ses toekennings vir goeie onderwyspraktyk ontvang asook o.a. ‘n Dekaanstoekenning vir Uitnemendheid in Onderwysersopleiding. Sy het uitgebreide bestuurservaring en was, voordat sy by hoër onderwys betrokke geraak het, 'n adjunkskoolhoof en het ook die Universiteit van Pretoria se satellietkampus in Witbank bestuur. Sy dien op verskeie opvoedkundige panele vir professionele ontwikkeling, assessering, materiaal- en beleidsontwikkeling op die gebied van Engels tweedetaalonderrig.

Prof Rinelle Evans, akademielid en emeritus professor aan die Universiteit Pretoria
Prof Rinelle Evans, akademielid en emeritus professor aan die Universiteit Pretoria
Lees meer

My ma word 93. Sy gebruik bedrewe ’n iPad om haar elektristeit aan te koop, banktransaksies te doen en kerkdienste op YouTube te volg. Sy het ook geleer om met kinders en kleinkinders in die buiteland op Skype te gesels. Sy byt nog nie aan Google wat mens antwoorde op bykans als kan verskaf nie. Daar staan immers twee rakke vol goed-deurblaaide Encyclopedia Britannica op haar boekrak!

Haar eerste poging om Google te gebruik was ook nie baie geslaagd nie. Iewers het ek nagelaat om ’n stap ten opsigte van sleutelwoorde te verduidelik.

“My kind, dit werk nie!” roep sy uit die sitkamer. Daar aangekom het Moeder ewe beleefd ingetik: Dear Mr Google, Could you please tell me …? Getrou aan die sterk seksisme van haar dag, was die manlike aanspreekvorm in die kol en sy darem so ordentlik en beleefd soos haar tyd haar geleer het.  

So het ek dan ook die voorreg gehad om vir verskeie van haar tydgenote in die aftreeoord te leer hoe om SMS’e te stuur, aanhangsels te e-pos en meer onlangs hoe om te Zoom en WhatsApp’ste stuur. Die onverbloemde opgewondenheid op ’n verkreukelde gesig as haar kind uit die VSA of Nieu-Seeland terug antwoord is soos die eertydse bankadvertensie gesê het “priceless”!

Met groot bevrediging vir beide leerder en leerkrag (met soms ’n baksel beskuit of konfyt as dankgeskenk), het ek die “oues van dae” die 21ste eeu tegnologies binne gehelp.

So bedink ek dus vanaand (na afloop van beurtkrag wat deesdae ’n totaal nuwe vorm van geletterheid vereis!) die konsep ‘geletterheid’.

As dosent debateer ek die tradisionele definisie met my Grondslagfase onderwyseresse-in-wording. Meeste onderskryf die tradisionele definisie dat as jy kan lees en skryf jy geletterd is. Teenvraag van my kant af om gedagtes te verfyn: Jy kan lees en skryf. Kan jy in Zoeloe (of Pools) ‘n taak indien of ‘n koerantartikel verstaan? Stilte. Definisie word daarna verfyn na:

Mens moet ten minste die taal ken om dit te kan lees en skryf. Daar is dus veel meer aan geletterd wees. En ja,hierdie tradisionele vorm van geletterdheid word van ’n uitsonderlike jong ouderdom af aangemoedig in geïndustrialiseerde en tegnologies gevorderde gemeenskappe. Geletterdheid in sulke samelewings word beskou as die sleutel tot kennis, mag en ekonomiese welvaart.

Tog is daar wêreldwyd gemeenskappe wat baie suksesvol funksioneer met slegs luister- en praatvaardighede. Hierdie persone is in staat tot geslaagde sosiale interaksie en bou sterk verhoudings. Hulle vra en bevraagteken, spreek hul ontevredenheid of vrese uit, en kan komplekse en abstrakte idees bespreek sonder om die tradisionele geletterdheidsvaardighede van lees of skryf aan te geleer het.

Hierdie gemeenskappe is gewoonlik nie onderworpe aan die eise van ’n voortdurend veranderende omgewing nie. Ons kan egter nie ontken dat sulke gemeenskappe oor ander hoogs verfynde geletterdheidsvaardighede beskik wat hulle in staat stel om met hul spesifieke omgewing om te gaan nie. Hulle vertolk wolkpatrone of dierespore terwyl hulle in die woestynsande van Namibië rondswerf. Of soos Inuïte wat met gespesialiseerde kennis in staat is om hul iglo's met die regte soort sneeu te isoleer om warm te bly.

Geletterdheid is dus meer as bloot ’n kognitiewe proses om te leer lees, skryf en bereken. Dit impliseer die graad van toegang wat jy het tot jou wêreld asook die nodige kennis om daarin op ’n toepaslike vlak te funksioneer. Dit behels die ontwikkeling van verskeie vermoëns om sin te maak van die omgewing waarin jy leef en om met lede van jou gemeenskap gepas te sosialiseer. Die tradisionele definisie van geletterheid lyk dus hiervolgens eng en beperkend.

Voor die COVID-19-pandemie, wat die ergste ontwrigting van onderwys in ’n eeu tot gevolg gehad het, het 617 miljoen leerders nie die minimum ouderdomsleesvlakke bereik nie en is alom reuse leerverliese gely. Maar hieroor is reeds genoeg geskryf en gesels. Ek wend my vandag tot ’n andersoortige agtergeblewene: die seniorburger.

LEES VERDER

Bronne