Gesprekspunt

Besinnings oor aktuele aangeleenthede

Meningstukke deur Akademielede en ander kundiges

Menings wat in bydraes op Gesprekspunt uitgespreek word, weerspiëel nie noodwendig die menings en opvattings van die SA Akademie nie.

Internasionale Vertaaldag, 30 September: Translation unveils the many faces of humanity

30/9/23
By ontvangs van die SA Akademieprys vir Vertaalde Werk

Hulidigingwoord deur prof Rufus Visagie by die toekenning van die SA Akademieprys vir Vertaalde Werk vir 2023:

Die Vlaamse skrywer Erwin Mortier is bekend daarvoor dat hy diep gryp in die volle rykdom van die Vlaamse variëteite van die Nederlandse taal. Mortier se woordgevoeligheid bied aan ondernemende vertalers van sy werk talle geleenthede om hulle vernuf ten toon te stel. Fanie Olivier het die kans aangegryp om met Wanneer gode slaap ʼn vertaling in Afrikaans te lewer wat jou asem wegslaan. In die roman is die hoogs bejaarde Helena aan die woord en kyk sy terug na haar jeug toe sy in die gruwels van die Eerste Wêreldoorlog in België en Noord-Frankryk vasgevang is. Die leser word ook meegevoer deur Helena se vertelling van haar afhanklikheid as verswakte bejaarde van haar versorgers. En wanneer sy nadink oor die uitdagings wat sy het om die wêreld in haar skryfwerk vas te vang, volg oorrompelende sinne soos die volgende in Fanie Oliver se vertaling: “Dit voel vir my dan asof die wêreld my die hof kom maak: Skryf my uit, verdubbel my. Trek my dampkringe na, my grondlae, my mantels en my siek herinneringe, en al die vlakke tussen wees en nie-wees wat net ʼn mens,die mees ontaarde dier wat uit my slyme opgekruip het, tot bestaan kan wek.”

Fanie Olivier se werk as digter en as literator het sekerlik ʼn waardevolle basis geskep vir die deeglikheid waarmee hy sy werksaamheid as vertaler benader. Sy noukeurige en oorwoë vertaling van Erwin Mortier se romanis duidelik ʼn prestasie wat vra vir lof en erkenning.

By ontvangs van die SA Akademieprys vir Vertaalde Werk
By ontvangs van die SA Akademieprys vir Vertaalde Werk
Lees meer

Internasionale vertaaldag is in 1991 deur die Federasie van Internasionale Vertalers [FIT] geskep en in 2017 deur die Verenigde Nasies geproklameer. Daaroor kan persone wat belangstel, breedvoerig ingelig word by, onder andere, https://www.un.org/en/observances/international-translation-day. En let sommer gerus op hoeveel verwarring op daardie skakel geskep word deur te suggereer dat “translation” as ekwivalent “transposition” het ...

Dit is dus ’n jongerige geleentheid, maar die bestaan van die verskynsel “vertaling” is natuurlik so oud soos die mensheid self.

Daardie eerste klanke waarmee iemand iets benoem het, die “ding” verwoord het, ’n naam kon gee, het die essensie van vertaling bevat. En toe daardie spreker ander om hom kon oortuig om die betekenis van die “woord” te aanvaar, het vertaling dadelik ingeskop.

Ons dink natuurlik nie meer vandag só oor of aan vertaling nie, maar eintlik het niks verander nie. Soms is dit skynbaar eenvoudig: ’n tweetalige woordeboek oortuig ons van die moontlike “betekenis” van die woordding wat iemand anders gebruik en ons verstaan dan wat sy of hy sê of skryf. Maar as die konteks verander, die betekenis verdig, soos in ’n slim prokureur se kontrak of ’n roman of, behoede ons, ’n gedig, word die verstaan van die “werklike” betekenis al hoe moeiliker.

[Ver]taalkontekste is natuurlik so wyd soos die Heer se genade, maar vanjaar se Vertaaldag-tema,“Translation unveils the many faces of humanity”, wil waarskynlik veral klem plaas op die funksie van letterkunde-in-vertaling.

Om te wys hoe moeilik en gevaarlik vertaling kan wees, hoef ’n mens net te kyk na die verskillende moontlikhede wat opduik as jy die tema self bekyk. Want “unveils” klink so glashelder en duidelik, maar met drie of vier Afrikaanse vertaalekwivalente, spring ander invalshoeke in die oog. Dink maar aan “lig die sluier op”, “onthul”, “ontmasker” of “lê ... bloot”.

En “humanity”dan? Die “mensdom”? “Menslikheid”? “Mensheid”?

Waarskynlik wil die tema ons daaraan herinner dat letterkunde ’n baie persoonlike perspektief bied op die taalgemeenskap waartoe die skrywer behoort of waaroor sy of hy met redelike insig en kennis skryf.

Die outeur se perspektief mag natuurlik bitter “subjektief” wees en “onbetroubaar” en die vertaling daarvan dus eweneens.

Dink maar net aan die honderde belangrike tekste [en wat oor die jare vertaal is], maar watdie laaste ruk rondom verskillende fasette van politieke dienstigheid op die ashoop beland het. Want die aangesig, voorkoms, aanskyn van die mensdom en mensheid verander voortdurend.

“Taalgemeenskap” is natuurlik reeds ’n moeilike begrip, soos dit bv. blyk uit die reaksie op Erwin Mortier se roman, Godenslaap. Mortier is Vlaming, maar die roman is in Nederlands geskryf. Bestaan daar iets soos ’n roman wat in Vlaams geskryf is? Wat,op stuk van sake, is ’n “Dutch novel”?

Die romanwerklikheid is oorwegend Vlaanderen, groot dele in “Flanders fields”, waaroor John McCrae so aangrypend geskryf het (i) ,dus in België. Hierdie wêreld ken Vlaminge goed, selfs die spreekwoordelike derde en vierde geslag. Die roman herbevestig dus dié bewussyn, sonder om sluiers te lig of dinge bloot te lê, maar maak eietydse Vlaamse lesers [ook lesers uit die tweede geslag] bewus van waardes en oordele wat rondom ander aspekte van ons menswees verander het.

Godenslaap bevestig hierdeur die feit dat alle letterkunde die funksie vervul wat die tema van vanjaar se Internasionale Vertaaldag is. Dit is die trefkrag van goeie tekste: dat dit groter en ander ruimtes van ons mensdom ondersoek en belig, nuwe perspektiewe onder die leser se aandag bring.

Hoe suksesvol Godenslaap in hierdie opsig was, kom na vore in ’n oorsig/resensie wat ’n Nederlandse hoërskoolleerling oor die roman skryf. ‘n Mens moet in gedagte hou dat die  grootste gedeelte van die moontlike lesers Nederlanders sou wees en dat die roman in terme van “landelikheid” dus as ‘n tipe vertaling, ʼn oorplasing  beskou kan word.

Sy skryf onderandere die volgende:

      De levensgeschiedenis van Hélène Demont (meer dan 100 jaar oud wanneer ze het verhaal in schriften opschrijft) loopt parallel met de geschiedenis van een       werelddeel. Een van de onderbelichte periodes in de Europese geschiedenis (zeker in de Noord-Nederlandse literatuur) is die van de Eerste Wereldoorlog. Door de       neutraliteit van Nederland heeft die eerste oorlog niet al te veel indruk gemaakt en wordt er in de literatuur niet veel over geschreven, in tegenstelling tot de Tweede       Wereldoorlog. Maar voor de Vlamingen is dat anders. De verschrikkingen van de loopgravenoorlog hebben zich voor een deel op Belgisch grondgebied afgespeeld en       die verschrikkingen waren voor de gewone man bizar. Veel mannen werden als kanonnen vlees opgeroepen en gebruikt en keerden of nooit terug of zwaar gehavend.       Die [Hierdie – F.O.] spiegeling van menselijk drama en wereldgeschiedenis wordt in Mortiers roman beschreven en hij doet dat op een al even indrukwekkende manier.

Die bespreking gaan verder en op ʼn pragtige manier [effens tegnies geredigeer] word die tema van die Vertaaldag, soos dit in Godenslaap gestalte kry, geïllustreer:  

     Daarom wordt “Godenslaap “een roman over oorlogstijd, gedragingen in oorlogstijd (prostitutie, heulen metde vijand), dood en verderf, escapisme, familierelaties,      coming of age van eenpuber,  inwijding in het leven/ de liefde,verliefdheid en liefde, homoseksualiteit, het noodlot en berusting in de loopzoals het leven je wordt      voorgeschoteld.

Inderdaad dus ’n boek wat verdien om vertaal te word. Ook in Afrikaans.

                                                                                                                         ***

As ons oor vertaling in of na Afrikaans gesels, is dit belangrik om te onthou hoekom dit destyds belangrik was.

Daar was ʼn eeu gelede geen sprake van ʼn Afrikaanssprekende middelklas nie en lees was in baie opsigte moeilik. Nederland was ver, en Nederlands het geleidelik steeds moeiliker geword om te lees. Engels en Engelse fiksie, daarenteen, is buitendien ook verbind met die taal van die imperialis of die verdrukker, soos dit deesdae genoem sou word, en dit was te verstane dat daar daarom onwennigheid sou wees om Engels te lees.

Fiksie wat in die opkomende moedertaal beskikbaar was, het in ieder geval hoofsaaklik die Suid-Afrikaanse landskap [geografies, maatskaplik en histories] as agtergrond gehad.

Die “many faces of humanity” in hulle verskillende gedaantes was dus nie sommer toeganklik vir die Afrikaners nie en dit was daarom dat die uitgebreide projek om groot tekste uit die wêreldliteratuur in Afrikaans te vertaal en publiseer van stapel gestuur is.

Dit is inderdaad merkwaardig om te sien hoe hierdie projek, wat oor omtrent twee dekades vanaf die veertigerjare gestrek het, onder andere met die Libri-reeks, die wêreld [letterlik en figuurlik] vir Afrikaanse lesers van uiteenlopende ouderdomme oopgemaak het. En dit, ironies genoeg, terwyl die sosio-politieke program die baie gesigte en aansigte van die omringende Suid-Afrikaanse werklikheid en menslikheid probeer reduseer en onttaal het.

[Ek kan natuurlik nie nalaat om die groot rol wat die reisende toneelgeselskappe, deur middel van vertalings uit Engels, Duits en Frans, gespeel het om wêrelddrama, met alle moontlike fasette en voorstellings van ʼn gedeelde medemenslikheid, na alle uithoeke van die Afrikaanse gemeenskap te bring nie.]

                                                                                                                          ***

LEES VERDER

Bronne