Gesprekspunt

Besinnings oor aktuele aangeleenthede

Meningstukke deur Akademielede en ander kundiges

Menings wat in bydraes op Gesprekspunt uitgespreek word, weerspiëel nie noodwendig die menings en opvattings van die SA Akademie nie.

Kwesbaar én veerkragtig – die dubbele werklikheid van Afrikaans

1/9/25
deur Dr. Annelise de Vries

Dr. Annelise de Vries (HUB van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns)

deur Dr. Annelise de Vries
deur Dr. Annelise de Vries

Dr. Annelise de Vries (HUB van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns)

Lees meer

Mense vra my dikwels: Kan ʼn taal werklik uitsterf? Die kort en ontnugterende antwoord is: Ja. Taaldood is veel meer algemeen as wat ons dink. Ethnologue, ʼn internasionale naslaanbron en taalatlas, katalogiseer tans 7 159 lewende tale en gebruik sekere maatstawwe die lewenskragtigheid van hierdie tale te bepaal. Tale word volgens hierdie bron in vier breë groepe verdeel: institusioneel (die taal word op ʼn makrovlak gebruik deur regerings en in domeine soos handel en onderwys), stabiel (die taal word grootliks op ʼn mikrovlak gebruik deur die taalgemeenskap oor geslagte heen), bedreig (waar die natuurlike taaloordrag van ouer na kind verswak) én uitgesterf (waar daar geen moedertaalsprekers meer oor is nie).

Die jongste syfers is onrusbarend: Nét 485 tale word tans as institusioneel geklassifiseer, 3 481 is stabiel en 3 193 reeds bedreig. In net twee jaar het vyf tale hul institusionele status verloor, 119 het van stabiel na ʼn swakker posisie verskuif en 115 het op die lys van bedreigde tale beland. Elke afwaartse statusaanpassing verklein die kans dat die taal die volgende geslag gaan oorleef.

Om ʼn taal te laat floreer, verg veel meer as nostalgie of sentiment. Sekere boustene moet in plek wees – met gesamentlike toewyding van die taalgemeenskap én die instellings wat die taal dra. Dít sluit in aanpassing by nuwe media en ʼn sterk digitale teenwoordigheid; ekonomiese lewensvatbaarheid; ʼn stewige plek in formele onderwys; taaltegnologie en digitale hulpbronne wat gebruik vergemaklik en virtuele teenwoordigheid bevestig; gemeenskapsinisiatiewe en kulturele aktiwiteite wat mense om die taal saambind; ʼn inklusiewe, bemagtigende narratief wat rondom die taal bestaan; doelbewuste intergenerasionele oordrag; én volgehoue korpusontwikkeling wat tred hou met ʼn meertalige wêreld en taalvariasie. ʼn Gesonde taal het sprekers met positiewe taalhoudings; organisasies wat beplanningsaksies koördineer; doelgerigte taalbeplanning in alle domeine – van wetenskap tot kuns; én ’n wetlike en beleidsraamwerk wat die reg tot gebruik beskerm. Ewe belangrik is dat die taal se geheue –  museums, argiewe en versamelings – deur instellings gekoester en in stand gehou word.

Teen hierdie agtergrond kan gevra word: Waar staan Afrikaans? Ethnologue klassifiseer Afrikaans as ʼn institusionele taal – een van slegs 485 wêreldwyd wat betekenisvol in onderwys, handel en op nasionale vlak gebruik word. Afrikaans leef nie net in huise en gemeenskappe nie, maar word ook deur gemeenskapsinstellings onderhou. Dit beskik oor ʼn uitgebreide korpus en uitgebreide dokumentasie – letterkunde, koerante, tydskrifte, radio, televisie, video’s, taalhulpbronne, grammatikas, tekste en geloofstekste – wat die institusionele posisie versterk. Binne ʼn meertalige wêreld wys Afrikaans dat selfs kleiner tale akademies en ekonomies relevant kan wees, mits volgehoue en doelgerigte taalbeplanning deur instellings én gemeenskappe plaasvind.

Ons kan ons dus nie op ons louere rus nie. UNESCO – die Verenigde Nasies se organisasie wat wêreldwyd onderwys, wetenskap, kultuur en tale, veral bedreigde tale, beskerm en bevorder – het reeds in 2023 gewaarsku dat Afrikaans as ʼn potensieel kwesbare taal beskou kan word. Volgens UNESCO beteken dit dat sómmige kinders die taal in alle lewensdomeine gebruik óf dat álle kinders dit slegs in beperkte domeine gebruik. Die volgende vlak van bedreiging, soos hulle dit beskryf, is wanneer die taal hoofsaaklik nog net deur ʼn ouer geslag sprekers gepraat word. Dit is juis op hierdie punt waar intergenerasionele taaloordrag ʼn taal se lot bepaal én waar die volle stel voorvereistes wat vroeër genoem is, ononderhandelbaar word as ons die taal se toekoms wil verseker.

Die volgende vraag is dus: Hoe beplan ons doelgerig om Afrikaans se institusionele status te behou? Die eerste stap is om te bepaal watter infrastruktuur tans bestaan én of die instellings en projekte wat poog om Afrikaans te bevorder, werklik belyn is met die voorvereistes vir ʼn taal om te floreer.

LEES VERDER

Bronne