Gesprekspunt

Besinnings oor aktuele aangeleenthede

Meningstukke deur Akademielede en ander kundiges

Menings wat in bydraes op Gesprekspunt uitgespreek word, weerspiëel nie noodwendig die menings en opvattings van die SA Akademie nie.

Menseregtedag, 21 Maart 2023. Laat niemand agterweë nie - gelyke regte vir almal

20/3/23
deur Bettina Wyngaard

Bettina Wyngaard is sedert September 2022 ‘n lid van die SA Akademie se Letterkundekommissie. Haar debuut, Troos vir die gebrokenes, is in 2010 met die Jan Rabie Rapport-prys bekroon. Sy publiseer ook vier fiksieboeke waaronder die misdaadromans Vuilspel en Slaafs. Sy skryf vir LitNet en is ook ondervoorsitter van die Andrew Murray-prysfonds.

deur Bettina Wyngaard
deur Bettina Wyngaard
Lees meer

Onthou jy nog die lang toue mense wat geduldig gewag het om hul kruisie te trek, baie vir die heel eerste keer, met die eerste demokratiese verkiesing in 1994? Dit was April, ʼn aangename sonnige dag. Daar was ʼn feestelike atmosfeer in die lug.

Demokrasie het uiteindelik aangebreek in Suid-Afrika. Baie mense dink dat ʼn grondwet die versinnebeelding van ʼn demokrasie is. Hulle is verkeerd. Apartheid Suid-Afrika het tog immers ook ʼn grondwet gehad. ʼn Ware demokrasie word verteenwoordig deur net ʼn paar klousules in enige grondwet, die Handves vir Menseregte. Dié handves spel elke mens se regte uit, soos gelykheid, waardigheid, selfs die regte wat mens het wanneer die polisie jou toesluit.

Dis waaroor daai eerste verkiesing gegaan het. Ons regte as mense, almal gelyk, is bevestig. Ons het gestem vir ʼn regering wat ons belowe het dat mense nooit weer in polisieaanhouding op stukkies seep gaan gly en sterwe nie. Niemand kan ons van ʼn strand wegjaag oor die kleur van ons vel nie. Ons kinders kan skool toe gaan. Ons kan klinieke en daghospitale besoek en gehelp word selfs al het ons nie geld om te betaal nie.

Vir die eerste keer kon ons kop omhoog deel van die wêreldverhoog uitmaak. Ons is ʼn demokrasie en ons burgers se menseregte word gerespekteer. Ons het selfs ʼn spesiale vakansiedag om ons te herinner aan ons menseregte.

Dit was die ooreenkoms wat ons daai dag met die trek van ʼn kruisie aangegaan het.

Ons het een van die mees gevorderde, innoverende en moderne grondwette in die wêreld. Ons Handves vir Menseregte maak gevestigde demokrasieë groen van jaloesie. Nuwe demokrasieë gebruik ons grondwet en veral ons handves vir menseregte as bloudruk vir hul eie. Ons wetgewing om geslagsgebaseerde geweld te bekamp en geslagsgelykheid te bevorder, word eweneens as bloudruk in ander lande in Afrika gebruik.

In 2023 lyk die prentjie nie meer so rooskleurig soos wat dit in 1994 was nie.

ʼn Kind verdrink in ʼn putlatrine. Pasiënte sterf in hospitale terwyl verpleegpersoneel buite staak. Studente vernietig universiteitseiendom oor onbetaalde fooie. Die land word lamgelê deur ʼn energiekrisis wat voortsleep en skynbaar nie opgelos kan of wil word nie. Die ekonomie, alreeds verswak deur die effek van ʼn pandemie, word in intensiewe sorg geplaas deurdat ons op  ʼn gryslys geplaas word weens nienakoming van korrupsievoorkomende maatreëls.

Geslagsgebaseerde geweld vier hoogty. Werkloosheid skiet die hoogte in, en so ook misdaad. Armoede neem toe, en gepaardgaande daarmee raak kos al duurder.

Korrupsie is toenemend die norm eerder as die uitsondering.

Dit is die agtergrond waarteen Suid-Afrikaners Menseregtedag gedenk. Die Suid-Afrikaanse regering se leuse  is “#LeaveNoOneBehind- walk for your rights”. Ironies, aangesien daar omtrent nie ʼn kategorie mense is wat nié agtergelaat word nie.

Die Handves vir Menseregte belowe toegang tot opvoeding vir almal. Maar die gehalte van die opvoeding? Ons jongmense word ʼn onreg aangedoen met die swak opvoeding wat hulle ontvang. Teksboeke vergader stof in streekskantore en word nooit by skole afgelewer nie. Leerders kry nog steeds onderrig onder bome.  ʼn 30%-slaagsyfer mag dalk sorg vir goeie statistieke, maar dit berei geen leerder voor vir ʼn lewe van voorspoed, vooruitgang en uitnemendheid nie.

Putlatrines by skole dertig jaar na demokrasie kan nie meer verskoon word nie. Dis nie net ʼn klap in die gesig vir arm leerders nie, dis ʼn verbreking van die reg op waardigheid wat in ons handves verskans is.

LEES VERDER

Bronne