Gesprekspunt

Besinnings oor aktuele aangeleenthede

Meningstukke deur Akademielede en ander kundiges

Menings wat in bydraes op Gesprekspunt uitgespreek word, weerspiëel nie noodwendig die menings en opvattings van die SA Akademie nie.

Moedertaal, wetenskap en meertaligheid: ’n akademiese besinning op Internasionale Moedertaaldag

21/2/26

Geskryf deur Moreen Coetzee, dosent in Professionele Studies aan Akademia en prof Rudi Pretorius, ereprofessor in Geografie aan UNISA.

Internasionale Moedertaaldag word jaarliks op 21 Februarie gevier en die 2026-tema, “Jeugstemme oor Meertalige Onderwys”, is van besondere belang vir wetenskapsbeoefening in leerders se moedertaal.

Wanneer stroom nie meer vloei nie en waarom moedertaal in wetenskaponderrig saakmaak …

Elke jaar bevestig die matriek-eindeksamen ’n hardnekkige tendens: Elektriese stroombane bly een van die mees problematiese onderwerpe in fisiese wetenskappe. Hoewel leerders formules kan manipuleer, berekeninge kan uitvoer en simboliese notasie kan herken, ontbreek dit dikwels aan die onderliggende konseptuele begrip wat nodig is om antwoorde te interpreteer, te verduidelik en te regverdig. Hierdie spanning dui daarop dat die uitdaging nie uitsluitlik by die abstrakte aard van die inhoud lê nie, maar verweef is met die feit dat wetenskaplike vaktaal meestal aangeleer word in ’n tweede of selfs derde taal. Hierdie taal is egter nie noodwendig die primêre medium van denke en betekenisvorming vir leerders nie.

Teen hierdie agtergrond word 21 Februarie wêreldwyd gevier as Internasionale Moedertaaldag. Hierdie dag word veral deur UNESCO aangewend om taaldiversiteit en meertaligheid te bevorder. Dit ondersteun ook die bereiking van die 17 volhoubare ontwikkelingsdoelwitte van die 2030 Agenda vir Volhoubare Ontwikkeling, en geld veral vir Doelwitte 4 (Gehalte Onderrig) en 9 (Industrie, Innovasie en Infrastruktuur). Vir 2026 is die tema van Internasionale Moedertaaldag Jeugstemme oor Meertalige Onderwys, en die fokus is op hoe jongmense die toekoms van meertalige onderwys kan vorm, met meer klem op die kognitiewe, sosiale en ekonomiese voordele van meertaligheid in ’n wêreld van toenemende migrasie en tegnologiese veranderinge. Meertaligheid behoort dus tans meer gerig te wees op koppeling aan inklusiewe onderrigpraktyke, veral vir leerders wat ’n vak soos wetenskap in ’n tweede taal moet aanpak.

Wetenskap het ’n eie unieke taal. Dit is abstrak, presies en logies gestruktureer. Begrippe soos stroom, potensiaalverskil en energie-oordrag verwys egter nie na tasbare ervarings nie, maar na modelle en verhoudings wat kognitief gekonstrueer moet word. Om wetenskap te leer, vereis voldoende taalvaardigheid in die taal van onderrig. Leerders moet binne hierdie taalraamwerk kan redeneer oor wetenskaplike denke en abstraksie, idees kan verbind, oorsaak en gevolg kan begryp en betekenis kan verleen aan dikwels verskuilde prosesse.

Wanneer wetenskap in ’n tweede of derde taal onderrig word, loop leerders die risiko om aan kognitiewe oorlading blootgestel te word. Aan die een kant moet hulle die vaktaal bemeester en ontsyfer, en aan die ander kant moet hulle ook betekenis aan konsepte verleen en vakterminologie gebruik. Die gevolg hiervan is dat baie leerders dan eerder terugval op die blote memorisering van wetenskaplike beskrywings. Woorde word onthou sonder dat konsepte werklik vasgelê word. Dit is juis hier waar wanopvattings as gevolg van topologiese foute kan ontstaan en ook waarom onderwerpe soos elektriese stroombane onder andere jaar ná jaar problematies bly.

Moedertaal speel ’n kritiese rol in hierdie proses. Navorsing toon konsekwent dat leerders konsepte beter begryp en dieper vaslê wanneer hulle dit eers in hul moedertaal kan verken. Moedertaal bied ’n bekende denkraamwerk waarin nuwe idees ingebed kan word. Dit maak dit moontlik om wetenskaplike terminologie sinvol te integreer, eerder as om dit meganies te memoriseer. Die verskuiwing van die fokus vanaf ek kan die definisie opsê na ek kan die definisie buite my klaskamer toepas word moontlik gemaak deur gebruik van die taal waarin leerders gevorm is. Dit ondersteun hulle nie net om hul gedagtes uit te druk nie, maar help ook om hul identiteit as denkers en leerders te vorm en om konsepte op ’n persoonlike en betekenisvolle wyse te verwoord.

In die Suid-Afrikaanse konteks word hierdie verskynsel duidelik in meertalige wetenskapklaskamers waargeneem. Onderwysers, wat die kognitiewe en semiotiese rol van taal in wetenskapsonderrig verstaan, pas toenemend transtalingpraktyke in hul klaskamers toe. In hierdie benadering word leerders aangemoedig om idees aanvanklik in hul moedertaal te bespreek, en konsepte aan mekaar te verduidelik met alledaagse voorbeelde, waarna dit geleidelik oorgaan na die gebruik van formele wetenskaplike vakterminologie. Hierdie strategie ondersteun konseptuele begrip, betekenisgewing en die integrasie van vaktaal op ’n manier wat leerders se denkraamwerke en ontwikkelingsvlakke in ag neem.

Die impak van hierdie soort benadering op leerderprestasie blyk beduidend te wees – veral waar onderwysers doelbewus taal gebruik om begrip te ondersteun. Wanneer leerders die vryheid gebied word om konsepte eers in hul moedertaal te bemeester en betekenisvol te verbind aan formele wetenskaplike terminologie, onthou hulle nie net wat hulle geleer het nie, maar is dit ook makliker vir hulle om sodanige konsepte buite die klaskamer, en sonder die gebruik van handboeke, toe te pas. Hierdie proses ondersteun nie net eksamenprestasie nie, maar bou ook leerders se vermoë om konsepte in nuwe situasies te gebruik. Dit is veral belangrik vir inklusiewe onderrig: doelbewuste moedertaalondersteuning verlaag kognitiewe struikelblokke, versterk konsepbegrip en maak volwaardige deelname aan wetenskaplike leerpraktyke moontlik. Betrokkenheid by outentieke leerpraktyke, insluitend gemeenskapsgebaseerde wetenskaplike aktiwiteite, skep betekenisgewende ruimtes waar leerders hul ondersoeke, argumente en bevindinge in hul moedertaal kan verwoord. Inisiatiewe soos wetenskapekspo’s bied ’n tasbare voorbeeld van hoe hierdie praktyke die oorgang na formele wetenskaplike vaktaal kan ondersteun.

Op Internasionale Moedertaaldag, wat fokus op meertaligheid en inklusiwiteit, moet ons nie slegs vra of leerders die taal van wetenskap magtig is nie. Die kernvraag is eerder of opvoeders werklik begryp hoe taal funksioneer om betekenis te skep, en hoe dit leerders in staat stel om abstrakte konsepte te begryp, verbande tussen verskillende voorstellings te lê, en hul eie denke en identiteit as wetenskaplike denkers te vorm. Die vraag is of huidige wetenskaponderrigpraktyke werklik begrip dien, en of dit nie net vaardigheid in sekere tale en memoriseringstegnieke toets nie.

Indien ons ernstig is oor transformasie, prestasie en volwaardige toegang tot wetenskap, moet ons die gebruik van moedertaal erken as die fondasie waarop wetenskaplike vaktaal en begrip gebou word. Met hierdie fondasie kan meertaligheid funksioneer as ’n brug wat leerders verbind aan begrip, argumentering en toepasbaarheid, en uiteindelik aan die vermoë om hul kennis oor te dra, toe te pas, en te bespreek en verdedig – binne én buite die klaskamer. Taal is nie ’n bykomstigheid tot die leer van wetenskap nie, maar is die middel waardeur abstrakte idees betekenis verkry. Wanneer onderwysers nie eksplisiet bewus is van die manier waarop wetenskaplike vaktaal ontwikkel nie, en ook nie hoe dit met leerders se moedertaal en dus hul verwysingsraamwerke skakel nie, kan dit maklik gebeur dat die leer van wetenskap tot prosedurele memorisering gereduseer word.

Wetenskap is egter nie slegs ’n versameling van feite, wette en teorieë nie, maar ’n multimodale praktyk. Dit sluit ondersoekende aktiwiteite in, die ontleding en interpretasie van grafieke en tabelle, die gebruik van formules en berekeninge, en – krities belangrik – die vermoë om betekenis aan hierdie voorstellings te verleen. ’n Grafiek “praat” nie vanself nie en ’n formule verduidelik niks sonder interpretasie nie. Leerders moet leer hoe verskillende vorme van kommunikasie in die wetenskapklaskamer met mekaar verband hou en saam betekenis binne ’n wetenskaplike raamwerk vorm.

Net so behoort taal in wetenskaponderrig nie gereduseer te word tot lees en skryf nie. Wetenskaplike betekenis word ook visueel, simbolies en diagrammaties oorgedra. Diagramme, stroombaanvoorstellings, grafieke, simbole en selfs modelle en analogieë vorm deel van die semiotiese hulpbronne waardeur abstrakte konsepte ontwikkel en verstaan word. Taal, verbaal én visueel, funksioneer dus as die brug tussen ervaring en abstraksie, tussen leer en toepassing. Wanneer hierdie semiotiese hulpbronne nie eksplisiet gekoppel word aan leerders se taal- en ervaringswêreld nie, bestaan die gevaar dat wetenskap gefragmenteerd en moeilik toeganklik bly.

Indien wetenskaplike vaktaal ’n kernvoorwaarde vir begrip is, is dit ook die fondasie van die leerder as volwaardige denker. Net soos Plato in die Antieke Griekse beskawing redenering en deduksie gebruik het om nuwe kennis te ontwikkel, moet leerders in ons klaskamers geleenthede kry om hul eie idees te formuleer, te bespreek en te verdedig. Debatvoering, argumentering en kommunikasie van idees behoort nie bloot toevallig by assesseringsaktiwiteite ingesluit te word nie, maar deel uit te maak van die daaglikse praktyk om wetenskap te leer. Wanneer taal hierdie rol vervul, nie net om kennis oor te dra nie, maar om denke en identiteit te vorm, kan leerders betekenisvolle verbande vaslê tussen konsepte en verskillende voorstellings, en selfs buite die klaskamer toepas wat hulle leer.

Moedertaalonderrig moet daarom nie gesien word as ’n pedagogiese kompromie nie, maar as ’n epistemiese noodsaaklikheid: dit vorm die grondslag waarop wetenskaplike vaktaal, konseptuele begrip en uiteindelik akademiese sukses gebou word. Meertaligheid is nie die probleem wat oorbrug moet word nie – dit verteenwoordig die hulpbron waardeur leerders toegang verkry tot wetenskaplike denke en van daar tot globale wetenskaplike diskoerse.

Wetenskap floreer waar betekenis gevorm word. En betekenis begin in die taal waarin ons dink, die taal wat ons vorm, ons identiteit as denkers bou, en ons in staat stel om konsepte te interpreteer, te bespreek en toe te pas.

LEES VERDER

Bronne