Gesprekspunt

Besinnings oor aktuele aangeleenthede

Meningstukke deur Akademielede en ander kundiges

Menings wat in bydraes op Gesprekspunt uitgespreek word, weerspiëel nie noodwendig die menings en opvattings van die SA Akademie nie.

NP van Wyk Louw - 11 Junie (1906): Om Louw 117 jaar later te onthou

13/6/23
deur prof Willie Burger
Voorsitter van die Letterkundekommissie van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns

Willie Burger is sedert 2010 professor in letterkunde en hoof van die Departement Afrikaans aan die Universiteit van Pretoria. Voorheen was hy vir twaalf jaar aan die Universiteit van Johannesburg verbonde en hy het sy loopbaan as dosent in 1991 aan die Universiteit van Zululand begin.

Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor narratiwiteit. Hy het meer as veertig navorsingsartikels in vaktydskrifte en as hoofstukke in boeke gepubliseer en was as redakteur by publikasies oor vooraanstaande Afrikaanse skrywers betrokke (Karel Schoeman, NP van Wyk Louw, André P Brink, Marlene van Niekerk).

Oor die afgelope 20 jaar het hy meer as 400 boeke geresenseer en die volgende pryse is vir sy boekjoernalistiek aan hom toegeken: Caxton Excellence Award (2015),  kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” in 2016 en in 2020. Hy was van 2010-2020 die boekredakteur van Vrouekeur en het 8 jaar lank tot die “Kopstukke”-rubriek in Beeld bygedra.

Sy sketse en verhale oor die wel en weë van vaderskap is in twee bundels onder die titel Pa se stem versamel (2002 en 2005) en verskeie essays het op ander forums verskyn.

deur prof Willie Burger
deur prof Willie Burger
Voorsitter van die Letterkundekommissie van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns
Lees meer

Ons loop elkeen deesdae met ’n slimfoon in die hand en kan sommer onmiddellik, op byna enige plek, google wat ons wil weet of vir ChatGPT vra. Gevolglik is memorisering nie meer ’n belangrike vaardigheid nie. Byna niemand leer meer gedigte uit hul koppe nie. Maar een van die min gedigte wat tóg onuitwisbaar in my geheue bly steek, is Van Wyk Louw se
Ex unguine leonem” uit Tristia:

Ek kan nie opsom: nie ’n lewe, ’n gesprek,
’n tydperk of ’n eeu.
Die klou dui al die dier aan, is gesê –
maar is nog nie die leeu.

Ek vind op hierdie aarde soms ’n volte…
my brein die kry die waan
dat ek, omdat ek sirkel sien,
die sfeer-self kan verstaan.

Wat ek van mense of van God wil meen,
word in my dofheid dof.
Iets staan in sterre-en-helderte geskryf;
en ek skryf na in stof.

Louw is al die hoogste lof toegeswaai. Karel Schoeman het hom immers “Suid-Afrika se grootste digter en een van die min figure van wêreldformaat wat die land nog opgelewer het” genoem. En hy is ook al verguis en afgewys vir sy nasionalisme, sy naïewe geloof in die reddende mag van die skoonheid (in die 1930’s), vir sy “aristokratiese ideaal” – idees wat later getemper is. Of mens egter van sy idees in sy opstelle hou of nie, daaroor kan mens verskil; oor die woorde in hierdie gedig (en trouens die hele bundel, Tristia) is daar egter min twyfel dat dit mens bly roer en steeds laat nadink.

11 Junie is Van Wyk Louw se geboortedag. Hy is op hierdie dag 117 jaar gelede in Sutherland gebore. Dit is haas onmoontlik om aan Afrikaans, aan Afrikaanse poësie of aan denke in Afrikaans of oor die Afrikaner te dink sonder dat sy naam opduik.

Louw word gereken as denker en digter. In sy opstelle vind Plato en Kant en Hegel en Nietzsche Afrikaanse woorde. Hy verwoord helder aaan die moeilikste idees en het vir ons ’n woordeskat gegee om oor baie dinge te praat en dink, met begrippe soos “liberale nasionalisme”, die “oop gesprek”, “lojale verset”. Hoe postief of negatief mens ook hieroor kan voel (dink maar aan Elsa Joubert wat gesê het daar is te veel lojaliteit en te min verset by Louw) die berippe wat hy geskep het, het gespreksmoonhtlikhede oopgemaak.

Ons kan natuurlik nie sy lewe opsom nie, ook nie sy oeuvre of sy bydrae tot die literatuur nie, soos mens nie ooit durf dink dat jy die volte kan sien en vasgryp nie. En dit is miskien juis om hierdie rede wat sy poësie uiteindelik die grootste impak maak, groter as die opstelle. Terwyl die idees in prosa oënskynlik makliker vaspen, verstaan, verduidelik; staan die digkuns dikwels in bietjie meer onsekerheid as tekens wat selfbewus nie vasgryp nie maar tog moontlikhede vir anders dink en voel bly oopmaak.

Anne Michaels het eens geskryf “It is the rut of rhythm that veers the mind” en in Louw se poësie is dit beslis die geval dat die denke in versvorm verder bykom as wanneer dit in die prosa beslag kry.

Koki verwys in Raka na taal as “die fyn net van die woord waarmee ons groot visse vang”. Dit is natuurlik hoekom ons literauur lees en skryf. Ons probeer verstaan en gryp met die fyn net van die woord. En om fyner te gryp vereis sorgvuldiger woordekeuse, versigtiger kies van metafore, nadenke oor die vorm wat emosies roer en denke rig, asook die vermyding van die cliché, want as ons in clichés skryf en taal in clichés gebruik, dan sal ons in clichés bly dink. Poësie is uiteindelik ’n manier van dink wat die taal in beweging hou en om denke in beweging te hou.

In sy opstel, “Oor woordkuns”, skryf Van Wyk Louw dat daar in die literêre kunswerk “drie momente of kragrigtings” onderskei kan word:
In die literêre kunswerk is daar drie momente of kragrigtings wat onderskei maar nie geskei kan word nie: die begripsinhoud; die gevoel, atmosfeer of “gees”; en die sinlike moment, die “inkleding”, die taal, in ‘n baie besondere sin, die “vorm”.

LEES VERDER

Bronne