Besinnings oor aktuele aangeleenthede
Menings wat in bydraes op Gesprekspunt uitgespreek word, weerspiëel nie noodwendig die menings en opvattings van die SA Akademie nie.
Ek onthou hom goed, die skoolhoof – kort van postuur, die haarlyn reeds ver teruggetrek. Sy donker, indringende blik en oë, intelligent op ’n manier wat jou as kind laat regop sit het. Hy het nie geraas nie, net respek afgedwing.
My ma, self jare lank graadeenonderwyseres op die dorp, het met waardering van hom gepraat – ’n man van beginsel, van inhoud, van stilte eerder as lawaai. Soos wat Jan FE Celliers van genl. De Wet geskryf het, kon ’n mens ook van hom sê: “Daar gaan ’n man verby”.
Oom Ampie was ’n Lichtenburger tot in die merg van sy gebeente. Sedert sy voorsaat Abraham Daniel Bosman in 1867 in die Lichtenburg-omgewing aangekom het, was sy familie al van dié omgewing. In 1869 word Abraham Daniel ’n medeondertekenaar van ’n dokument wat regulasies vir die beoogde dorp opstel. Ons familie is, soos syne, sedert Lichtenburg se stigting in 1873 op Hendrik Greeff se plaas, deel van die dorpsgeskiedenis. My oupagrootjie het die NWK gestig en was eerste voorsitter daarvan.
Oom Ampie het ’n groot droom vir sy dorp gehad: om ’n museum vir en op Lichtenburg tot stand te bring en so die dorp en die omgewing se erfenis te bewaar. Hy het met sy oë oop gedroom. Hulle sê mos: Pasop vir iemand wat met sy oë oop droom — because they might act their dreams.
Ná sy aftrede in die middel-70’s, het hy op sy lewenstaak begin fokus en word hy die dorp se eerste museumkurator. Nadat die stadsraad goedgunstiglik besluit het om die museum na hom te noem, het die Ampie Bosman Kultuurhistoriese Museum in die stadsaalkompleks oopgemaak, oorkant Hennie Potgieter se lieflike standbeeld van genl. Koos de la Rey op sy perd.
Die museum se sentrale tema het natuurlik gefokus op De la Rey, die Leeu van Wes-Transvaal, maar dit het ook ’n pragtige uitstalling gehad van my voorsate en hul bydrae tot die dorp. Eendag, het ek gedink, kan ek my kinders soontoe neem en vir hulle hul komvandaan gaan wys.
Ek het oom Ampie eers beter leer ken ná sy aftrede, toe ons in standerd twee dorp toe getrek het. Twee erwe van ons af, in Transvaalstraat, het oom Ampie en tannie Truida hul aftreehuis laat bou. Hul seun was argitek en een van die vennote by Botha, Van Rouendal en Bosman Argitekte op die dorp. In daardie argitekskantoor het ek die eerste keer iets beleef van wat dalk “ontwerp” genoem kan word.
Hul aftreehuis was ’n ware Mid-Century Modern-juweel so tipies van die sewentigerjare — kompleet met plat dak, reguit fassies, ’n gestileerde boogingang, groot glaspanele, en geverf in die tipiese ProNutro-kleure van die tyd. Dit het sommer ook as inspirasie gedien vir my toekomstige beroep. (Daardie laatmodernistiese artefak het plek gemaak vir ’n motorbandhandelaar getooi in geel en swart. “Vooruitgang” is ook deel van ons storie.)
Oom Ampie se aanvanklike besoeke aan ons huis was in ’n amptelike hoedanigheid – as ouderling van die Klipkerk. Die atmosfeer was dan gewyd en formeel, en ons moes almal kom sit vir huisbesoek. Ná die voorlesing uit die Skrif, is daar vir elke lid van die huisgesin gebid. Ons is vyf kinders.
Ek onthou een spesifieke huisbesoek baie goed. Dit was in die tyd toe Dallas op die kassie was en Sue Ellen met haar whiskeyglas geworstel het. Daar was baie beswaarmakers op die dorp teen dié sondige sepie, maar ek glo dié Amerikaanse sepie was in der waarheid volksbesit en het iets gebied waaroor almal kon skinder.
Toe dit tyd raak om vir die hele gesin te bid — sewe individue kan nogal lank vat — kom my jongste sussie, Susan Ann (so gedoop) gelukkig laaste aan die beurt. Toe daar innig vir Sue-Ellen gebid is, moes ons ons kieste byt om die lag binne te hou. Gelukkig was die “Amen” naby.
In die jare wat gevolg het, het die afstand tussen die skoolhoof-ouderling en die onderwyseres se gesin gekrimp. Oom Ampie het ure lank navorsing kom doen, onderhoude gevoer met my pa as ’n primêre bron, en die stories wat hy ontdek het met ons gedeel. As blyk van waardering, het hy aan sy vriend, my pa, een van die eerste eksemplare van sy boek Lichtenburg 1985 gegee. Voorin het hy spesiaal ’n lys neergeskryf van al die stamnaamgenote. ’n Intieme argief van die lewe.
Die lewe stoom voort, die volgende geslag word gebore, jare stap aan, maar daar is mos ’n museum op die dorp, altyd mos maar daar, altyd so effe in die agtergrond. Ons sal nog soontoe gaan, eendag as ons wil terugkyk, stilstaan, of die kinders wil gaan wys waar ons vandaan kom. Waar hulle vandaan kom.
2018 pyl te vinnig op my af. My ouers trek Pretoria toe — die laaste Mathews-inwoners om Lichtenburg te verlaat sedert die dorp se stigting in 1873. Ons moet my, en Ouma en Oupa se dorp groet. Ek besluit my seuns moet hul komvandaan ken, maar die geskiedenistoer moet ek interessant hou — hulle is tieners, en ’n mens wérk immers vir ’n tiener se aandag.
Ek neem hulle begraafplaas toe en wys hulle die familiegrafte. Daar naby is genl. De la Rey se graf met die oorspronklike borsbeeld wat in 1917 deur Fanie Eloff, ’n kleinseun van pres. Paul Kruger, gemaak is. Ons ry deur Mathewsstraat (niks te sien nie), en stop by De la Rey se standbeeld op die dorpsplein. Ons hou stil by die museum. Stil. Toe. Geen personeel nie.
Ek vertel toe maar vir my seuns die storie van hul oupagrootjie se pa en oupa, en dat hulle dankbaar moet wees vir oom Koos, anders was hulle nie vandag hier nie. Volgens oorlewering het oom Koos self een van ons voorouers van fusillering gered: “Skiet eers vir my, voor julle vir Eddie Mathews skiet,” het hy glo gesê. My pa, ’n wetenskaplike, analitiese chemikus en geoloog, het altyd gewaarsku dat ’n mens nie oorlewering as waarheid moet oorvertel nie, maar vir my was daar tog iets in daardie storie wat bygebly het. En dit het my tienerseuns vermaak.
Ons sal later spesiaal Lichtenburg toe kom om die Ampie Bosman Kultuurhistoriese Museum te besoek, het ons dié dag besluit. Want museums, het ek geglo, is tydlose ruimtes.
’n Baie gerieflike geleentheid vir nog ’n geskiedenisles doen hom onverwags voor op ’n Emirates-vlug. Hulle het mos die graf en standbeeld van genl. De la Rey besoek, maar nie sy museum nie.
Op Emirates se vermaakspyskaart is Verraaiers, gebaseer op Albert Blake se boek Boereverraaier. (James Cameron se Avatar was ook op die spyskaart, maar die vlug was gelukkig lank.) Teen die tyd dat die aankondiging opklink: “Cabin crew, prepare for landing,” sien ek ’n traan teen ’n tienjarige seun se wang afrol.
Miskien ’n voorbode.
Op ’n Oktoberoggend in 2023 — jakarandas nog in kleur, die wêreld nog halfvol goedheid en guns — lees ek op Netwerk24: “Museum in Lichtenburg vernietig. Dolk in Afrikanerhart”.Ek staar na die foto’s. Roet, rook, swart kolle waar eers stories gelê het. Niks is gespaar nie.
Op bl. 238 in sy boek Lichtenburg 1985, skryf oom Ampie Bosman: “Lichtenburg se standhoudende ondergrondse waterrykheid is sy primêre natuurlike bate, waaraan sy ontstaan en voortdurende ontwikkeling te danke is.”
In die dorp van water, soos my geoloog-pa dit genoem het, in oom Ampie se dorp van waterrykheid, was daar nie genoeg water om die brand te blus nie.
Met die onlangse Vryfees in Bloemfontein loer ek gou tussen vertonings by NALN (Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum Navorsingsentrum) in President Brandstraat in. Ek is tog mal oor geboue.
Dalk is dit net ek wat weens my nering die tekens kan sien: Water kan net soveel skade aanrig as ’n brand, dis net stadiger en minder skouspelagtig. Dis ’n kanker eerder as ’n hartaanval.
Ek besluit op die plek: Dis tyd om weer te droom. Ons moet ophou ween oor die brand en die verlies, en ons moet optel wat oorbly. Ons moet iets bou, miskien nie ’n museum soos voorheen nie, maar dalk ’n Afrikaanshuis. Dalk twee of drie: een Noord, een Suid, en iets sentraal. ’n Plek wat ons kinders kan skakel met hul komvandaan — met rekenaars, geskrifte, skandeerders, én rakke. Met spraak én stilte.
En dalk noem ons een van die kamers daarbinne die Ampie Bosman-afdeling vir Tasbare Kultuurerfenis.