Besinnings oor aktuele aangeleenthede
Menings wat in bydraes op Gesprekspunt uitgespreek word, weerspiëel nie noodwendig die menings en opvattings van die SA Akademie nie.
In hul internasionale topverkoper Ikigai: The Japanese secret to a long and happy life (2017) verduidelik die outeurs, Héctor García en Francesc Miralles, dat die woord ikigai verwys na daardie gevoel van betekenis, roeping of innerlike vervulling wat jou motiveer om elke dag met hernude ywer aan te pak. Die woord herinner ook aan die Franse raison d’être wat vertaal kan word as “bestaansrede” – so reg in die kraal van die Deense filosoof Søren Kierkegaard se eksistensiële denke oor taal. Volgens Kierkegaard is taal nie bloot ʼn middel tot kommunikasie nie; dit is ook ʼn ruimte waarin die self tot bewustheid en betekenis kom. Taal is dus nie net iets waarmee ons ons leefwêreld benoem nie – dit is diep verweef met die menslike bestaan en daarom kan dit nooit tot slegs woorde beperk word nie.
Teen hierdie agtergrond kan ons die omvang van taal as drieledig beskou: (1) die taal se geheue (tasbare erfenisaspekte soos museums, argiewe en biblioteke); (2) die taalgemeenskap (ontasbare aspekte soos taalhoudings, taalbehoeftes en taalgebruik); en (3) die taal se infrastruktuur (instellings en projekte wat die taal beskerm en bevorder). Hierdie drie aspekte is onlosmaaklik deel van mekaar en speel ʼn kardinale rol in taalbeplanning.
Die geheue van ʼn taal is nie bloot ʼn versameling ou, vergete dinge nie, maar berus eerder op aktiewe betrokkenheid by die verlede om die hede te verstaan. Plekke soos museums, argiewe en biblioteke is daarom nie statiese instellings nie, maar eerder dinamiese ruimtes waarbinne ʼn taalgemeenskap betekenis uit die verlede put om vir die toekoms te beplan.
Daarteenoor is die taalgemeenskap die plek waar taalerfenis ʼn lewende praktyk word – iets wat voortleef, vernuwe, gevier en aangepas word. Soos Kierkegaard beklemtoon, leef taal in die verhouding tussen die self en die ander, én in die self se verhouding tot die verlede. ʼn Goeie voorbeeld hiervan is die Afrikaans Amptelik 100-veldtog, wat nie net die amptelike erkenning van Afrikaans ʼn honderd jaar gelede herdenk nie, maar ook die alledaagse werklikheid van die taal in hedendaagse gemeenskappe vier. Hierdie veldtog bring verskillende sektore van die samelewing saam om herinneringe, stories en nuwe uitdrukkingsmoontlikhede vir Afrikaans te deel – ’n toonbeeld van taalerfenis as ʼn aktiewe, gedeelde praktyk.
Wat ʼn taal se infrastruktuur betref, vervul taalinstellings ʼn bemiddelende rol tussen die bewaringsdimensie en die lewende praktyk van taal. Hierdie instellings bewaar, dokumenteer en ontwikkel die taal deur, onder meer, taalonderrig, navorsing en kultuurprojekte. Dit bied ook ruimtes vir gesprek, aanpassing en eietydse gebruik deur konferensies, publikasies en mediaplatforms.
Die volhoubare bevordering van ʼn taal berus uiteindelik op ʼn gesonde balans tussen die bewaring van die taal se geheue en die aktiewe deelname van die gemeenskap wat dit leef.
Ons vergeet egter dikwels dat die volhoubare bevordering van ʼn taal nie ʼn blote toevalligheid is nie. Ja, daar is ʼn element van organiese groei ter sprake, maar ʼn groot deel van ʼn taal se voortbestaan en vooruitgang berus op doelgerigte beplanning. Hierdie doelgerigte beplanning is duidelik wanneer ons na Afrikaans se verlede kyk. Stanley Ridge skryf in 2001 in ʼn akademiese artikel só hieroor: Die geskiedenis van Afrikaans is boeiend – die taal se vinnige ontwikkeling tot ʼn selfstandige taal is besonder indrukwekkend. Taalbeplanners kan baie uit hierdie geskiedenis leer – beide wat betref dit wat voordelig is en dit wat liefs vermy moet word.
As millenniër wat die behoud en bevordering van Afrikaans as deel van my ikigai beskou, maar ook uit hoofde van my posisie as hoof- uitvoerende beampte van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, besef ek dat ons op die skouers van reuse staan wat, teen alle verwagting in, Afrikaans in ʼn rekordtyd tot hoëfunksiestatus verhef het. Ek besef ook dat as ons nie nou nét so doelgerig soos ons voorgangers gaan beplan nie, my kinders nie die voorreg van Afrikaans as moedertaal ten volle gaan beleef soos wat ek dit beleef nie.
Die filosoof en historikus, Arnold Toynbee, skryf dat die prestasie van ʼn generasie afhang van suksesvolle reaksies op die vraagstukke van hul tyd. Een van die unieke vraagstukke waarmee ons generasie worstel, is redelik voor die hand liggend: Hoe kan Afrikaans betekenisvol gebruik word in alle lewensruimtes van Afrikaanssprekendes op ʼn wyse wat in harmonie is met ander taalgemeenskappe in Suid-Afrika en internasionaal? Ten einde hierdie vraagstuk suksesvol te kan beantwoord, is dit belangrik om doelgerig te beplan. Sodanige beplanning sluit die ontwikkeling en uitbreiding van strukture, projekte en vennootskappe in, terwyl die inklusiewe ontwikkelingsgeskiedenis van Afrikaans deurentyd in gedagte gehou moet word.
Jared Diamond, die bekende Amerikaanse historikus, skryf in sy boek Collapse: How societies choose to fail or succeed (2005) dat samelewings nie noodwendig in duie stort omdat hulle nie probleme raaksien nie, maar eerder omdat hulle nie vroeg genoeg moeilike proaktiewe besluite neem nie. Vandag bevind ons ons by ʼn kruispad waar ons sodanige besluite sal moet begin neem. Indien ons nie nóú doelgerig en gesamentlik begin beplan vir die toekoms van Afrikaans nie, kan dit dalk binnekort te laat wees. Hierdie beplanning kan egter nie slegs op die skouers van individue rus nie – dit verg ʼn weldeurdagte en gefokusde strategiese verbintenis tussen organisasies, gemeenskappe en welwillende skenkers.
Taalbeplanning alleen is egter nie voldoende nie. Om te verseker dat Afrikaans in alle domeine floreer, is dit belangrik dat die taal doelgerig gelééf word. ʼn Taal is nie net woorde nie – dit is ons geheue, ons identiteit en ons bestaansrede. Indien ons die taal se geheue versorg, maar die gemeenskap verloor, word dit bloot ʼn museumstuk. Indien ons egter die geheue afskeep, sal die taal betekenis verloor. Afrikaans se uiteenlopende erfenis moet dus aktief bewaar word, terwyl daardie bewaring ook die toekoms moet help vorm. Sodanige bewaring moet met ʼn ingesteldheid van uitnemendheid geskied. En uitnemendheid is, volgens Aristoteles, nie ʼn daad nie, maar ʼn gewoonte – een wat ons gouer eerder as later moet begin kweek.
Die SA Akademie het reeds meer as ʼn eeu gelede juis uit hierdie insig ontstaan, naamlik dat taal nie vanself voortbestaan nie, maar volgehoue sorg, visie en beplanning vereis. Vandag, in 2025, bly dié verbintenis onwrikbaar. Die SA Akademie speel ʼn aktiewe rol in die bewaring van die geheue van Afrikaans, in volgehoue skakeling met die Afrikaanse taalgemeenskap, in die ontwikkeling van Afrikaans se infrastruktuur én in die beplanning van die toekoms van Afrikaans. Só wil die SA Akademie ook in die volgende eeu help om Afrikaans se bestaansrede lewend en betekenisvol te hou.