UITNODIGING: 2023 Studentesimposium vir die Sosiale en Geesteswetenskappe

Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK) beplan om 23-24 November 2023 die vierde Studentesimposium vir die Sosiale en Geesteswetenskappe aan te bied.

Nagraadse studente van regoor Suid-Afrika word genooi om hul navorsing, wat in Afrikaans aangebied word, in die vorm van ʼn referaat (20 minute) of plakkaat (5 minute) by die simposium aan te bied. Die 2023-simposium sal ‘n hibriede formaat aanneem om soveel moontlik aanbieders en bywoners te akkommodeer en daar word weer ‘n nuutskeppingskompetisie gehou vir nuwe Afrikaanse vakkundige terme wat geskep is konsepte wat nog nie in Afrikaans benoem is nie – met ander woorde vir konsepte waarvoor daar nog nie 'n gestandaardiseerde Afrikaanse term bestaan wat in vakwoordelyste en vakwoordeboeke opgeneem is nie.

Die simposium onderskraag die oogmerke van die SAAWK deur akademiese denkleiers aan te moedig om hul bevindinge in die sosiale en geesteswetenskappe in Afrikaans met ʼn breër gehoor te deel. Voorts moedig die SAAWK studente, wat hul navorsing in Afrikaans doen, aan om hul aanbiedings voor te lê. Studente wat hul navorsing in ander tale onderneem, word ook aangemoedig om hul bevindinge te vertaal vir ʼn referaat of plakkaat wat in Afrikaans aangebied word. Op hierdie manier word Afrikaans ook as akademiese vaktaal bevorder en uitgebrei binne die veld van die sosiale- en geesteswetenskappe.

Tydens die derde Studentesimposium vir Sosiale en Geesteswetenskappe in 2022 het 22 nagraadse studente van ses Suid-Afrikaanse universiteite, referate gelewer. Die referate het binne die vakgebiede geval van die antieke tale en kulture, drama, filosofie, geskiedenis, kuns, linguistiek en letterkunde, musiek, maatskaplike werk, opvoedkunde, regsgeleerdheid, sosiologie, spraakterapie en teologie.

Vul asb. die deelnamevorm in indien u belangstel om ʼn referaat of plakkaat wil lewer.

Die aangepaste sperdatum vir voorstelle is 20 Oktober 2023. Deelnemers sal teen Maandag 6 November 2022 van die uitkoms verwittig word.

Registrasie vir aanlyn aanbiedings beloop R150 en vir in persoon aanbiedings (by die SA Akademiese kantore in Pretoria) R250. Vir verdere navrae, tree gerus per e-pos met die organiseerders in verbinding.

LEES MEER