Gesprekspunt

Besinnings oor aktuele aangeleenthede

Meningstukke deur Akademielede en ander kundiges

Menings wat in bydraes op Gesprekspunt uitgespreek word, weerspiëel nie noodwendig die menings en opvattings van die SA Akademie nie.

Die Lichtenburg-effek: Suid-Afrika se kanarie in die myn

13/10/25
Dr Pieter Mathews

Argitek

Dr Pieter Mathews is ’n argitek van Pretoria, lid van die Kommissie vir Visuele Kunste van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, en verbonde aan die Namibian University of Science and Technology as nagraadse studieleier. Die mening hierin is sy eie.

Dr Pieter Mathews
Dr Pieter Mathews

Argitek

Lees meer

“Die verlede is ’n ander land,” skryf Karel Schoeman. Met twee onlangse besoeke aan my geboortedorp – een vir my 40ste reünie en ’n ander saam met my oudste suster om weer my komvandaan te beleef – het ek besef watter wonderlike en bevoorregte kinderjare ek in Schoeman se “ander land” gehad het. By elke besoek kon ek nie help om aan my pa se wilde stelling te dink nie: “Alles begin in Lichtenburg. Lichtenburg is Suid-Afrika se kanarie in die myn.”

Ons stap terug op ons spore, kyk na geboue, ruimtes en plekke deur ’n nuwe lens, en help mekaar se geheue aan. Twee mense onthou en ervaar verskillend, maar ’n kollektiewe geheue is altyd sterker.

Ek gebruik ’n glimbaadjie om op ’n gewone, lui Vrydagmiddag toegang tot die Burgersentrum te kry (my ou truuk). Met ’n vorige besoek is ek toegang geweier tot ’n openbare gebou, wat ek wou besoek omdat my pa as stadsraadslid betrokke was by sy oprigting. Seker maar bang vir negatiewe publisiteit. Op dié Vrydagmiddag is daar nie ’n voltydse salaristrekker in sig nie. Ek verduidelik aan ’n junior werknemer dat ek ’n argitek van Pretoria is en graag wil sien wat gedoen moet word om hul werkplek weer funksioneel te kry. Sy oë begin blink en ek word op ’n volledige begeleide toer geneem – kompleet met politieke kommentaar en ander klagtes.

Daar is nie lopende water in die stadsraad se toilette nie; iemand word elke oggend aangestel om waterhouers vol te maak sodat daar met ’n roomysbak gespoel kan word. Ironies genoeg is die Departement van Water en Sanitasie se kantoor in dieselfde gebou geleë!

My suster verklaar: “Dis ’n besoek aan Distopia. Dis amper opwindend.” Ek dink: “Net tot die nuutjie verby is, Sus. Reality is a bit messy.” In Lichtenburg se geval very, very messy.

Die kolletjiekoppelaar en die siener

Aan my pa se mynkanarieteorie het ons ons nie gesteur nie. As geoloog en wetenskaplike het hy ons immers kritiese denke geleer. Maar vir hom was daar ’n onlosmaaklike verband tussen teorie en praktyk, tussen die hede en die verlede:

  1. “Die rebellie het eintlik op genl. De la Rey se stoep uitgebroei.”
  2. “Die KP is in werklikheid in Ferdi se eetkamer gestig.”
  3. “Ekonomiese verval begin as die Jode die dorp verlaat.”
  4. “Water en onbevoegdheid gaan eendag groot, wêreldwye probleme word.”

Sy biblioteek was propvol: die Anglo-Boereoorlog, die Tweede Wêreldoorlog, en Suid-Afrikaanse politiek. Elke boek van Ebbe Dommisse was op sy rak, maar ook Kennis van die aand en Magersfontein. As analitiese chemikus het hy patrone herken en unieke konsepte verbind. He could connect the dots. Hy was ’n kolletjiekoppelaar.

Ek skat so 20, 25 jaar gelede, met die ANC se uitrol van lojaliste in munisipaliteite tydens Mbeki se bewind (kaderontplooiing se voorloper), is Lichtenburg geteiken. “Alles begin in Lichtenburg.”

“Is dit jou pa wat hulle so aanvat op die nuus?” vra een van my personeellede die volgende oggend. “Kan wees,” antwoord ek. “Daar is nie ander geoloë op die dorp nie, maar hy is ’n pensioenaris.”

My pa het byna ’n kwarteeu gelede beurtwater voorspel en die impak van die Lichtenburg-effek beskryf.

Die SAUK-nuusdeuntjie speel. Riaan Cruywagen kondig die hooftrekke aan:
“Volgens sake-ondernemings in Lichtenburg, Noordwes, kan wateronderbrekings duisende werksgeleenthede in gedrang bring.”

Die verslaggewer volg op:
“’n Geoloog wat sedert 1957 vir die munisipaliteit water aanwys, sê hy het reeds in 1994 aanbeveel dat die munisipaliteit minstens 10 boorgate sink. Hy sê omdat dit ’n dolomitiese omgewing is, en verskeie geologiese kompartemente onder die grond voorkom, is daar baie ondergrondse water – selfs in droogtetye.”

Pa aan die woord: “Die posisie waarin ons ons tans bevind, is suiwer as gevolg van die nalatigheid van die Lichtenburg Munisipaliteit.”

Die waterprobleem is polities van aard  – die gevolg van onbevoegdheid en korrupsie. Ek het hom vermaan om dit nie op TV te sê nie.

Die New York Times kom kyk self

Jare later, toe faksiegevegte binne die ANC nie meer onderdruk kon word nie, was Lichtenburg weer in die nuus. Internasionale nuus, dié keer. Lynsey Chutel van die New York Times skryf:

“A South African Town Lacks Water and Electricity: But Mayors? It has Two, Mayor Daniel Buthelezi, Mayor Tshlofelo Morero. Two men simultaneously claim to be mayor of Lichtenburg. Both are members of the African National Congress, or ANC, the party that rules South Africa – and this neglected town.” (New York Times, 30 Okt. 2021)

Daardie berig in een van die wêreld se mees gerekende dagblaaie het my laat wonder of my pa se kanarieteorie dalk meer akkuraat was as wat ek gedink het. En ja, ons sien dit nou: groot ANC-faksiegevegte, selfs berigte dat die twee faksies privaat ondernemings gekontrakteer het om op mekaar te skiet.

Ek hoop hy was verkeerd. Maar ek dink hy was reg.

Van Kipling tot entropie

Rudyard Kipling, wêreldberoemde digter en skrywer van The Jungle Book, het in die ABO in Lichtenburg diens gedoen. In sy gedig Lichtenberg (sic) beskryf hy die reuk van wattelbome (eintlik soetdoringbome) terwyl hy in die reën deur die dorp ry.

Die uiterste pole tussen sy liriese Lichtenburg en die New York Times se beskrywing van vandag se verval is epies.

Clover, wat vir dekades deel van die dorp was, het besluit om te disinvesteer. Ek glo dit is net ’n kwessie van tyd voordat Agrico, die voorlaaste groot werkskepper, ook die pad vat. Die bloudruk vir die res van die land lê hier voor ons. Ons sien dit nou afspeel met die lomp tariefonderhandelinge met die VSA.

Die lelike ding kort ’n naam

Ek was besig om oor die verval van plattelandse dorpe te skryf binne die vakgebied van stedelike ontwerp. Urban decay word dit genoem. Dis mensgemaakte agteruitgang – daardie spesifieke soort verval wat kom van swak plaaslike regering, korrupsie, onbevoegdheid en die ewige kaderontplooiing.

Ek het besef: Dis te lank om elke keer alles te benoem. Ons het ’n kortpad nodig, ’n enkele woord wat jy in ’n gesprek kan neersit en almal weet onmiddellik waarvan jy praat. ’n Term wat soos ’n knoop al die los drade saamtrek. Nie vlugtig nie, maar iets wat bly. ’n Diagnose wat jy kan maak sonder om die hele siektegeskiedenis te herhaal.

Dis belangrik om ’n ding ’n naam te gee, want soos die skrywers Rich, Berger & Luckmann dit stel: “What is not named, remains unseen. By giving a phenomenon a name, we anchor it in the public consciousness and grant it the legitimacy to be addressed.”

As die New York Times oor Lichtenburg se verval berig, kan ons dalk Lichtenburg as die simbool vir plattelandse verval gebruik. Ek stel dit voor op Facebook. Dis ’n lui manier, ja, maar tog: Die antwoorde stroom in. Party snaaks (Kakamas wen die humorkategorie), party ernstig. Ek het aanvanklik aan “Lichtenburg-sindroom” of “Lichtenburg-verskynsel” gedink.

Annemarie van der Walt vra: Hoekom Lichtenburg en nie Standerton, Ottosdal of Carolina nie? En boonop: ’n Verskynsel is iets wat kom en weer gaan. Hierdie probleem gaan nie weg nie. ’n Fenomeen of verskynsel is te vlugtig – dié verval is dit allermins.

Anna-Retha Green skryf uit die perspektief van afstand dat “effek” meer gepas is as “verskynsel”. En so kry ek my term: Lichtenburg-effek sal dit wees.

Hoekom Lichtenburg en nie Standerton, Ottosdal of Carolina nie?

Ja, dit kan enige dorp wees. Maar wat Lichtenburg onderskei van die ander, is die drastiese en sigbare verval. Die voor-en-ná-beelde van hierdie dorp spreek boekdele soos geen ander dorp kan nie.

Die stadsraad van Lichtenburg het groot gedroom en groot gedoen. Hulle het ’n renbaan gebou vir motorwedrenne. ’n Inwoner onthou nog hoe Clive Rice – krieketspeler en renjaer – met sy BMW (of was dit ’n AC Cobra?) om die baan gejaag het. Die dorp het ’n Olimpiesegrootte swembad gehad – iets wat min ander dorpe gehad het. Kanale vir roeiers en drie ingenieursontwerpte damme. ’n Internasionale wildteelsentrum vir o.a. renosters en jagluiperds, en ’n aasvoëlrestaurant waar voëls gevoer is met karkasse uit die dierehospitaal. (Miskien het die stadsvaders vooruit geweet dat renosterstroping en aasvoëlbedreiging eendag akuut sou word.)

Die dierehospitaal se argitektuur het herinner aan die werk van die Meksikaanse meester Luis Barragán – van internasionale gehalte. Daar was ook ’n Mid-Century Modern-kunsgalery met werke van Irma Stern, JH Pierneef en Walter Battiss. Die Ampie Bosman-museum waaroor ek verlede keer geskryf het. Uitstekende argitektuur uit die sestiger- en sewentigerjare (en dit is buiten die historiese Moerdijk- en Baker & Flemming-geboue).

Selfs ’n argitek-en-beeldhouer-ontwerpte Taalmonument – klein, maar visueel op ’n hoër standaard as die meeste ander dorpe s’n, uitgesonderd Jan van Wyk se monument in die Paarl.

Alles wêreldklas. Alles weg.

Dis nie dat Standerton, Ottosdal, Carolina of enige ander dorp nie verval het nie, maar Lichtenburg vergestalt die Lichtenburg-effek die beste.

LEES VERDER

Bronne