Die SA Akademie se Taalkommissie vir 2022 tot 2024

Die Raad van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns het pas die samestelling van die nuutverkose Taalkommissie bekend gemaak. Tydens ’n ad hoc-vergadering op 6 Desember 2021 het die Raad die volgende aanstellings goedgekeur vir ’n periode van drie jaar – van Februarie 2022 tot Desember 2024:

Hoofredakteur: Suléne Pilon; M.A.; Dept. Afrikaans, UP

Taalpraktisyn: Jana Luther; M.A.; WAT

Taalpraktisyn: Fred Pheiffer; M.A.; WAT

Taalkundige: Marius Swart; M. Phil.; Dept. Afrikaans en Nederlands, US

Taalkundige: Annelise de Vries; D.Litt. et Phil.; Vakhoof: Tale, Akademia

Rekenaarlinguis: Jaco du Toit; B.Sc. Hons.; CTexT, NWU

Nuwemediaspesialis: Monique Rabé; Webredakteur

Die Taalkommissie se ampsdraers bestaan uit die hoofredakteur wat as voorsitter tydens Taalkommissie-vergaderings optree en ook as segspersoon van die Taalkommissie dien. ’n Sekretaris sal by die TK se eerste vergadering aangewys word wat die taak sal hê om rekord te hou van alle besluite en ook as interne skakelpersoon sal optree. ’n Ondervoorsitter wat die voorsittersfunksie sal verrig wanneer nodig, sal ook verkies word. Die Taalkommissie se dagbestuur bestaan uit die voorsitter, ondervoorsitter en die sekretaris wat sake hanteer wat dringend is, maar kan nie finale besluite oor taalsake neem wat nie deur ’n meerderheid van die Taalkommissie ondersteun word nie.

Die Akademie se kommissies is belangrike substrukture wat weens die aard van hulle kollektiewe kundigheid en besondere opdragte van groot belang is om die missie en visie van die Akademie te vergestalt en so die status van Afrikaans as wetenskapstaal te help bevorder. Die Taalkommissie, wat vir meer as ’n honderd jaar die hoogste normatiewe gesag in Afrikaans is, staan kennelik sentraal in hierdie verband.