In hierdie huldigingspublikasie word daar met vars oë gekyk na Ina Rousseau as digter, kortverhaalskrywer en vertaler. Sy was ʼn eindeloos presiese en perfeksionistiese samevoeger van klinkende frases wat langsaam oor ʼn tydperk van vyf dekades soos ʼn koraalrif aangegroei het tot verse, digbundels en ʼn indrukwekkende oeuvre. Haar heilsame, ambagtelike invloed is duidelik te bespeur in die werk van Afrikaanse digters sedert die tagtigerjare van die vorige eeu. Rousseau se Engelse vertalings van haar eie gedigte is ook by hierdie bundel ingesluit. Dit is nog nêrens elders volledig gepubliseer nie. Sy ontvang die Reina Prinsen Geerligsprijs voor Zuid-Afrika vir haar debuut Die verlate tuin (1954) en die Hertzogprys vir haar laaste selfstandige bundel ʼn Onbekende jaartal (1995). Hierdie twee bekronings omkring as't ware haar skrywersloopbaan: ʼn kwiksilwersirkel.
Hierdie publikasie is die veertiende in die reeks aangebied deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, wat hulde bring aan literêre kunstenaars wat met die Hertzogprys bekroon is en wat oor dekades Afrikaans en die Afrikaanse letterkunde met hul werk verryk het. Hoewel die Hertzogprys met ʼn lang tradisie van meer as ʼn eeu binne die bestel van literêre pryse nie die hoogste in geldwaarde is nie, het die verwerwing daarvan ʼn besondere prestigewaarde en is dit steeds die vlagskipprys in die Suid-Afrikaanse literêre wêreld. Publikasies oor Adam Small, P.G. du Plessis, Pieter Fourie, Breyten Breytenbach, Johann de Lange, Reza de Wet, N.P. van Wyk Louw, Anna M. Louw, Elsa Joubert, Bartho Smit, Petra Müller, Etienne Leroux en Marlene van Niekerk het reeds in die reeks verskyn.
Voorwoord
Daniel Hugo
Ina Rousseau
Erika Terblanche
ʼn Kort resepsiegeskiedenis van Die verlate tuin ten tyde van die verskyning daarvan – en iets oor ʼn verlore vers
Fanie Olivier
Uitrek na ʼn "herordening van die heelal": ʼn Onbekende jaartal (1995)
Hein Viljoen
Ina Rousseau en die verhouding met Peter Blum
Tania Colyn
Variante in die poësie van Ina Rousseau – Kyk wat het sy gemaak!
Shané Kleyn
Johann de Lange huldig Ina Rousseau
Daniel Hugo
Die prosa van Ina Rousseau
Francois Smith
Ina Rousseau as literêre vertaler
Bernard Odendaal
Ina Rousseau se Engelse vertalings van haar eie verse
Daniel Hugo
Vier versvertalings van Ina Rousseau uit Italiaans
Daniel Hugo
Bibliografie
Erika Terblanche
Medewerkers
Register